Ek sweer ek was so nugter soos ’n monnik in ’n Tibettaanse klooster toe ’n ANC-LP gister skuins ná twee sy sit in die parlementsbanke kry en net ná die minuut stille tyd, oopmond-gaap, sy oë vryf en daar en dan besluit hy is darem nou so poegaai gegaap, hy gaan maar tjaila!
Maak maar die sommetjies. LP’s verdien net meer as R800000 per jaar (byvoordele uitgesluit). Wat beteken hulle kry voor Pravin Gordhan sy stukkie vat, ’n dagloon so net-net deuskant die R3500. Hygend hert, dan was dit mos omtrent vir jou ’n duur ou gapie, daai!
Dit was hoeka die week waarin die opposisie Z soos op die Kaapse Vlakte gesê word Z “’n lange gegooi het”.
Toe die onderhoofmeisie van die parlement, Nomaindia Mfeketo, vir Mosiuoa Lekota vra om sy woorde terug te trek nadat hy pres. Jacob Zuma verlede week daarvan beskuldig het dat hy sy ampseed ondermyn het, het die opposisie uit solidariteit met Lekota uit die Groot Saal spore gemaak.
Selfs die VF+ het saam met die ander ’n lange gegooi.
Terwyl ’n mens nou vashaak by “lange gooi”, was dit net van pas dat Johnny de Lange (ANC) ook darem in die prentjie kom.
De Lange het hom bloedig vererg toe Watty Watson (DA-hoofsweep) vir Zondi Makhubele (ANC) ’n “jong man” genoem en hom daarvan beskuldig het dat hy die Huis “moedswillig probeer mislei”.
Hoe meer Watson walgegooi het, hoe meer het De Lange begin stoom.
Laas toe De Lange in só ’n moeilike bui was, het Manie Schoeman oor die parlementsbanke getrek nadat ’n De Lange-regter die ding gedoen het.
Watson het toe maar die aftog geblaas en verskoning gevra.
Maar die dag het aan die jongste lat van die DA, Geordin Hill-Lewis, behoort.
Agterbanker ja, maar hy was so giftig soos Gio “Appels” Aplon teen die Bulls op Loftus. Wat Appels vir die Stormers is, is Hill-Lewis vir die DA. Hy het gesokkie om die ANC.
Of in Muhammad Ali-taal: He floated like a butterfly and he stung like a bee!
En om te dink dit was maar net die mannetjie se tweede toespraak in die parlement.
’n Mens kan sien hy kom uit die Helen Zille-stal!
Naskrif: Sal oom Ben Ngubane wegbly van die poeding? Daai boepie kleef al teen die lessenaar.
Die Burger