PRETORIA. – Dit sal gaaf wees as Goeie Vrydag en Kersdag as openbare vakansiedae behou kan word, het kerklui gister gesê.
Dr. Isak Burger van die Apostoliese Geloofsending het egter aan Die Burger gesê hy sal nie betoog of ’n martelaar word oor dié saak nie.
Ds. Cassie Aucamp van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika het ook gesê daar is geen Bybelse eis dat dié dae vakansiedae moet wees nie.
In hul kerkorde word die viering van Paasfees, Hemelvaart, Pinkster en Kersfees aan gemeentes oorgelaat.
Volgens hom is die ware Christelike feesdag die eerste dag van die week, die Sondag, waartydens Christus se opstanding uit die dood gevier word.
Burger, Aucamp en prof. Nelus Niemandt stem ook saam dat Gesinsdag (wat vroeër as Paasmaandag bekend was) en Welwillendheidsdag (Tweede Kersdag) geen godsdienstige betekenis dra nie.
Burger vra vir die behoud van Goeie Vrydag en Kersdag bloot uit ’n gerieflikheids- en tradisionele perspektief.
Oor Hemelvaartdag het Burger gesê AGS-gemeentes maak in der waarheid nou meer van dié dag as toe dit ’n vakansiedag was.
Niemandt het gesê ook NG gemeentes vind kreatiewe maniere om dit te vier, met vroeë bidure of eredienste in die aand.
Persoonlik sou hy nie beswaar hê as heilige dae van ander gelowe ook vakansiedae word nie, maar uit die oogpunt van die funksionering van die land is daar eintlik reeds te veel vakansiedae.
Boonop sou sulke dae net klein persentasies van die bevolking raak.
Niemandt het ook daarop gewys dat Paasnaweek vir groot swart kerke soos die ZCC baie belangrik is.
Hy kan amper nie dink dat Goeie Vrydag en Kersdag as vakansiedae moet verval nie.
Die Kommissie vir die Beskerming en Bevordering van Kulturele, Geloofs- en Taalgemeenskappe beplan openbare sittings oor die kwessie van openbare vakansiedae nadat hulle klagtes en versoeke gekry het dat vakansiedae wat net Christenskap erken onregverdig en diskriminerend van aard is.
Die Burger