STELLENBOSCH. – Die hartseer oor die branddood van Sophie Rautenbach (86) hang nog byna tasbaar oor die Gerimed-tengersorgafdeling van die Kogelpark-aftreeoord op Kleinmond.
Rautenbach is Woensdag in die vroeë oggendure dood toe ’n woonstelvleuel van Gerimed in puin gelê is nadat ’n brand vermoedelik in haar kamer ontstaan het.
Die vyf ander inwoners van die eenhede wie se woonstelle ook afgebrand het, moet nog die trauma van die verwoesting verwerk.
Die oorlewende inwoners is kort ná die brand elders gehuisves – sommiges by hul kinders, ander by inwoners van Kleinmond, volgens Tiekie Möller, bestuurder van Gerimed.
Twee woonstelle was leeg. Die versorgingsoord-personeel rig kamers wat in die siekeboeg beskikbaar is, toe met meubels wat opgeberg was en met beddegoed wat deur die gemeenskap geskenk is.
’n Opgeleide traumaberader van Kleinmond se welsynsorganisasie het gister die personeel, sowel as die inwoners, besoek.
Möller het gesê: “As jy in die bystandsorgwoonstelle woon, het jy maar net jou kosbaarste besittinkies by jou.
“Tannie Maré Potgieter (87), byvoorbeeld, het ’n besonderse boek gehad wat haar kinders vir haar saamgestel het met ou koerantberigte van haar man en kinders se sportprestasies. Dit is onvervangbaar, en iets waaroor sy die hartseerste is.
“Tannie Miems Minnaar (90) weer het die wonderlikste houtsneewerk in haar kamer gehad wat sy self gemaak het – haar bed se hele kopstuk, en die mooiste vrugtebakke is met die hand uit hout gekerf. Daar is niks van oor nie.
“Tannie Dawn Meyer (78) sien baie sleg. Sy het ’n spesiale vergrootglas waarmee sy nog kon lees, verloor.
“Familiefoto’s en ’n hangertjie van sentimentele waarde is vir tannie Marie Neethling (76) die grootste verlies. En oom Eben Louw (83) is maar net hartseer oor alles,” het Möller vertel.
Carel Pieterse, eienaar van Gerimed, het Gerimed se diepe dankbaarheid uitgespreek oor die gemeenskap se ondersteuning.
“Die moderne wêreld raak mos maar koud. Maar daai kleindorpie-effek van almal wat omgee, beleef ons deur gebede, e-posse en oproepe van mense reg oor die land en selfs van die buiteland,” het hy gesê.
Die koste van die skade sal eers later bepaal kan word wanneer die versekeringsmaatskappy sy ondersoek afgehandel het.
’n Strukturele ingenieur moet kom sê wat presies gesloop moet word en wat net herbou kan word, aldus Pieterse.
Intussen is die versorgingsoord se eetsaal, kombuis en siekeboeg weer werkend. Net een vleuel se telefoonverbindings kon nog nie herstel word alvorens die polisieondersoek afgehandel is nie.
Die Burger