KAAPSTAD. – Beleggers in wyle Herman Pretorius se gesekwestreerde beleggingstrust gaan nog lank moet wag voor hulle sal weet wat van hul beleggings van byna R2miljard geword het – en of hulle ooit weer enige sent daarvan sal sien.
Eduard Brand, wat saam met Pretorius ’n trustee van die Relative Value Arbitrage Fund (RVAF) was, het gister sy stilte verbreek en ’n omsendbrief aan beleggers gestuur waarin hy noem dat die kurators se ondersoek na die finansiële posisie van die trust ’n “geruime tyd” sal duur.
Die kurators het gisteroggend beheer geneem oor die trust se sake en met hul ondersoek begin.
Brand het in die omsendbrief gesê ’n vorderingsverslag sal so spoedig moontlik ná die ondersoek aan beleggers gestuur word.
Beleggers wat nadere inligting wil hê, kan die kurators se webblad, www.corprecover. co.za, besoek.
Die aansoek om sekwestrasie van die RVAF-trust en eisvorms is ook op die webblad beskikbaar.
Mense kan ook hul navrae op die webblad doen.
Rynette Pieters, een van die kurators, het by navraag gesê daar word nou vasgestel of daar wel R1,8miljard soek is, asook hoeveel beleggers daar is.
Oor die wyse waarop die administratiewe en rekeningkundige rekords van die trust gehou is, asook of dit volledig is, het Pieters gesê hulle is besig om alle dokumentasie te versamel. Sy kan eers later hieroor kommentaar lewer.)Die RVAF-trust is die laaste tyd in die nuus nadat Pretorius vermoedelik eers ’n voormalige vennoot, Julian Williams, en daarna homself doodgeskiet het.
Sedertdien is ’n sekwestrasie-bevel in die Wes-Kaapse hooggeregshof teen die trust verkry deur ’n belegger. Kurators is ook aangestel om die sake van die trust oor te neem en ’n ondersoek na die finansiële toestand daarvan te doen.
Die Burger