KAAPSTAD. – Die gemeenskap van Bishop Lavis is ontevrede oor die Wes-Kaapse onderwysdepartement (WKOD) se planne om ’n skool daar te sluit en meen die skool word onnodig geteiken.
Die Primêre Skool Lavis Rylaan is een van die 27 skole wat moontlik einde vanjaar deur die Wes-Kaapse onderwysminister, Donald Grant, gesluit kan word.
“Ons sal dit nie hier los nie en ons sal nie toelaat dat die skool geviktimiseer word nie,” het Marius Fransman, Wes-Kaapse ANC-voorsitter, gesê.
Dit het Sondagaand op ’n gemeenskapsvergadering aan die lig gekom dat die WKOD ’n beroep op die skool gedoen het om twee beheerliggaamposte af te skaf sodat hy in staat is om sy munisipale rekening te betaal.
Bronagh Casey, woordvoerder van die WKOD, het gesê die skool het geld wat volgens nasionale norme en standaarde aan hom toegewys is gebruik om die poste te finansier.
“Dit is nie veronderstel om vir beheerliggaamposte gebruik te word nie. Die geld moet vir munisipale dienste soos elektrisiteit, water, riolering en vullisverwydering gebruik word.”
Volgens haar moet beheerliggaamposte gefinansier word deur bykomende fondse wat deur die skool gegenereer word.
Fransman het gesê dit is “onregverdig” om van ouers te verwag om nog meer vir water- en ligterekeninge te betaal en die skrywe wat deur die WKOD aan die skool gerig is, is ’n manier om die skool te dwing om sy deure toe te maak.
“Albei redes wat die WKOD aanvoer waarom die skool gesluit moet word (afname in leerdergetalle en die afwesigheid van ’n hoof), is onwaar,” het Fransman bygevoeg.
Volgens Casey word die skool onderbenut wat betref die aantal beskikbare klaskamers en die feit dat daar die afgelope vier jaar geen permanente hoof aangestel is nie.
“Ander skole in die nabye omgewing se klaskamers is ook onderbenut en kan leerders van Lavis Rylaan huisves,” het sy bygevoeg.
Sy het verwys na die Primêre Skool Bishop Lavis en die Primêre Skool Helderberg, wat onderskeidelik 500m en 600m van Lavis Rylaan is.
Die Burger