BLOEMFONTEIN. – Naval Hill, in dié stad en met sy reuse-standbeeld van oudpres. Nelson Mandela, is Saterdag enkele ure vir die publiek gesluit ná ’n dreigoproep dat die beeld met ’n bom opgeblaas gaan word.
Die dreigoproep, deur ’n onbekende inbeller, is na die polisie in Bloemfontein gemaak.
Mense wat Naval Hill wou besoek en na die beeld van R3,7miljoen wou gaan kyk, is by die hek weggewys terwyl geregsdienaars en honde van die polisie se K9-eenheid die gebied om die beeld vir plofstof gefynkam het.
Geen plofstof of bom is gekry nie.
Die standbeeld is twee weke gelede deur pres. Jacob Zuma onthul, ’n week nadat vier regses in hegtenis geneem is weens ’n beweerde beplande terreuraanval op Zuma en ander ANC-leiers op die ANC se Mangaung-konferensie.
Brig. Billy Jones, provinsiale polisiewoordvoerder, het gesê daar is geen verband tussen die naweek se bomdreigement en verlede week se beweerde mislukte terreuraanval nie.
Kapt. Rulene Kühn, polisiewoordvoerder, het gesê die bomdreigement is Saterdagmiddag omstreeks 17:00 gemaak.
Ondersoek word gedoen na wie die oproep gemaak het en van waar dit gemaak is.
Tientalle mense, onder wie besoekers aan die stad, is om veiligheidsredes by die hek na Naval Hill weggewys.
’n Kimberliet wat vroegaand saam met sy gesin en skoonfamilie en mense in vier ander motors weggewys is, het gesê: “Ons was teleurgesteld omdat ons regtig uitgesien het om die beeld te sien. Ons het maar omgedraai en die pad verby die Arthur Nathan-swembad gery om ’n beter uitsig te kry.
“Ons kon duidelik sien hoe ouens met flitse om die beeld en by uitkykpunte na iets soek.” Gister was Naval Hill weer oop vir besoekers.
Qondile Khedama, woordvoerder van die Mangaung-metro-munisipaliteit, het gesê die munisipaliteit maak tans toegangsbeheer tot die kop en die standbeeld gereed.
Daar is reeds 24 uur-sekuriteit op die kop. Met die toegangsbeheer sal die sekuriteit om die beeld nog verder opgeskerp word.
Die Burger