PRETORIA. – Die afgedankte polisiehoof Bheki Cele gaan ’n video by die hooggeregshof indien om te toon regter Jake Moloi het “met tye vrolik gelag” tydens die Moloi-raad van ondersoek.
Cele het vandeesweek ’n lywige verklaring by die Noord-Gautengse hooggeregshof hier ingedien. Cele sê daarin hy is tans werkloos en vra die hof om sy afdanking in Junie as nasionale polisiehoof deur pres. Jacob Zuma tersyde te stel.
Zuma het Cele afgedank nadat die Moloi-raad van ondersoek sy afdanking aanbeveel het nadat bevind is Cele het nie die vermoë om die werk behoorlik te doen nie.
Die raad se verslag was na aanleiding van twee huurkontrakte ter waarde van miljoene rande vir hoofkwartiere vir die polisie. Dié kantore is onderskeidelik in Pretoria en Durban.
Moloi, wat die raad se voorsitter was, is ’n regter van die Vrystaatse hooggeregshof.
Cele sê in die verklaring Moloi het tydens die ondersoek met tye vrolik gelag “wanneer hy ondersteuning uitgespreek het” vir ’n stelling wat gemaak is deur die span wat die getuienis gelei het.
Volgens Cele sal hy ’n video-opname van dié verrig-tinge lewer wat Moloi se houding op dié punt weerspieël.
Cele sê voordat Zuma die raad se verslag openbaar gemaak het, het Moloi die inhoud in ’n radio-onderhoud op die radiostasie SAfm bekend gemaak. Volgens Cele is die meeste van die basiese beginsels van regterlike etiek daardeur geskend. Hy is omgekrap omdat Moloi ’n openbare platform gekies het om die verslag se inhoud te onthul nog voordat Zuma dit gedoen het.
Volgens hom is die raad se bevindings fundamenteel foutief en moet die hof dit hersien.
Die raad se mandaat het ver verby sy (Cele se) funksies en pligte as die polisiediens se rekenpligtige beampte gestrek, sê hy.
Hy meen Moloi en die raad het baie van die relevante getuienis voor hulle geïgnoreer.
Cele sê die raad het sy getuienis geïgnoreer oor die stappe wat hy gedoen het om misdaad te voorkom en te beveg. Hy sê Zuma se besluit om hom af te dank, is irrasioneel en/of arbitrêr.
Volgens hom is dit verstommend hoe Zuma dít kon besluit, “gegewe die uitstekende mylpale wat ek in die uitoefening van my kernfunksies bereik het”.
Zuma was irrasioneel om Cele se gevestigde rekord in die algemene stryd teen misdaad as een van die redes vir sy afdanking te beskou, lui die verklaring.
Die Burger