DieBurger WEBWERWE/DIENSTE >

De Lille nie deel van DA-leierstryd

Deur: Jan Gerber en Jan-Jan Joubert 2012-05-29 00:00

KAAPSTAD.– Die Kaapse burgemeester, Patricia de Lille, het gister by navraag bevestig sy gaan nie verkiesbaar wees vir die Wes-Kaapse DA-leiersposisie nie.

Die leiersverkiesing vind op 13Oktober hier plaas.

Dit beteken waarskynlik ’n regstreekse tweestryd tussen dr. Ivan Meyer en adv. Lennit Max.

Terwyl Meyer reeds op die steun van minstens drie van sy kabinetskollegas kan reken in aanloop tot die DA se Wes-Kaapse leierstryd, gaan Max op sy politieke ervaring en hoë profiel staatmaak.

Dit is ’n oop geheim dat Meyer, provinsiale minister van kultuursake en sport, die steun van Theuns Botha, huidige DA-leier in die Wes-Kaap, het nadat Botha Saterdag aangekondig het hy sal nie weer beskikbaar wees vir die amp nie.

Gister het twee Wes-Kaapse kabinetslede – Albert Fritz en Anton Bredell – hul steun vir Meyer verklaar.

Bredell het ook bevestig dat hy terugstaan as provinsiale voorsitter en dat hy Botha se kandidatuur vir die voorsittersposisie steun. “Ek sal vir ’n ander posisie staan. Ons gaan almal werk om die nuwe leier te steun en Theuns het die ervaring om as voorsitter te dien. Ek hoop om deel te wees van die gom wat die party heg. Tweespalt is nie nou nodig nie.”

Meyer het die naweek aangedui hy sal homself “ná omvattende besprekings met die party se leierskorps” as leier verkiesbaar stel.

Max sal hoop dit is die derde keer skeepsreg nadat hy by twee vorige provinsiale leiersverkiesings die onderspit gedelf het.

Max was gister verbaas dat Botha Sondag reeds aangedui het hy is nie weer verkiesbaar nie.

Hy het uitgewys hy het in die verlede verskeie leiersposisies beklee – in die polisie en as provinsiale OD-leier – en is ’n bekende politikus. Hy het toegegee hy moes al ’n “paar politieke klappe” vat, maar “terugslae inspireer my net”.

Die OD se Wes-Kaapse leier, Rodney Lentit, het gesê hy steun Meyer. Hy het benadruk dat daar nie ’n OD-koukus in die DA is nie en dat niemand beïnvloed gaan word hoe om te stem nie.

Die ander DA-leiersfiguur wie se naam as moontlike leier genoem word, Dan Plato, het by navraag gesê hy gaan nie nou kommentaar lewer nie.

Die Burger
«Terug