KAAPSTAD. – Die Wes-Kaap se uitnemende leerkragte wat pas deur die provinsiale departement van onderwys aangewys is, deel hul geheime oor hoe om ’n goeie onderwyser te wees.
Susanna Pietersen, gr.R, Laerskool Hawston: “Dit gaan nie oor jou nie, maar oor die kind. Jy moet daardie ekstra pad stap met kind, want jy is ook hul ma. Al bly die kind in moeilike omstandighede, kan jy hom die regte manier van leef leer.
“Jy moet altyd onthou jy kan ’n kind maak of jy kan hom breek.”
Pietersen het as ’n kok by ’n crèche begin en toe opleiding gekry. Vandag is sy die hoof van die vier gr.R-klasse by die skool.
Isabel Beckett, spesiale onderrig, Laerskool Bettie Barnard, Stilbaai: “Ek dink ’n mens moet regtig lief wees vir kinders. Elkeen van my kinders is anders en hulle kort individuele aandag en liefde. Ek leer kinders die alledaagse takies wat hulle dalk nie andersins leer nie.”
Beckett neem haar kinders na die kliniek om hul sig en gehoor te toets en vind ’n manier om die koste te dra indien hulle brille of gehoortoestelle benodig.
Sy leer hulle van MIV, higiëne, hoe kom te bak, ’n groentetuin te maak, hul eie toebroodjies te maak, om inkopies te doen en hul tande te borsel.
Francois Jones laerskoolonderrig, Laerskool De Villiers, Robertson: “Ek dink ’n mens moet buite die boks dink. Die kinders moet dinge sien, hoor en doen en wanneer hulle goed self ervaar, leer hulle soveel meer. Ek staan nie net voor in die klas en leer hulle uit ’n boek nie.”
Dié wetenskap-onderwyser leer ook sy kinders om veiligheid eerste te stel, verdraagsaam te wees en saam te werk.
Ismail Teladia, hoërskool-onderrig, Hoërskool Spineweg, Mitchells Plain, het gesorg dat al sy gr.11-leerders ’n identiteitsdokument en e-pos-adres het.
Onder sy leiding as hoof van lewensoriëntasie het hy dit verpligtend gemaak dat alle kinders een periode per week fisieke onderrig ondergaan, en sy registerklas het ’n 100%-slaagsyfer.
Hy help tans al die gr.11-leerders om ’n bankrekening te open.
Die Burger