DieBurger WEBWERWE/DIENSTE >

Drie sterf in brande in Skiereiland

Deur: Raymond Willemse 2012-12-23 23:04
 
KAAPSTAD. – Drie mense is die naweek in afsonderlike brande in die metropool dood.

Volgens Wilfred Solomons-Johannes van die stad se rampbestuur het ’n brand gisteroggend die lewe van ’n 19-jarige vrou en ’n 24-jarige man van die informele nedersetting Taiwan in Khaye­litsha geëis nadat die woning waarin hulle geslaap het aan die brand geraak het.

“Die brand het net voor 03:00 uitgebreek en vier wonings in puin gelê. Die oorsaak is glo ’n kers wat omgeval het. Nog 16 mense is dakloos gelaat.”

Solomons-Johannes het gesê Tyrone Saal (26), ’n inwoner van Parkwood naby Grassy Park, is Saterdag in ’n brand dood.

“Hy was vasgevang in ’n slaapkamer en kon nie betyds uitkom nie.”

Meer as 40 mense is die naweek weens brande dakloos gelaat.

Malwande Giba van Khayelitsha, wie se huis tot op die grond afgebrand het, het gesê môre gaan ’n donker Kersdag wees. Hy was ten tyde van die voorval nie by sy blyplek nie.

“Ek kon ongelukkig niks van my eiendom red nie.”

Giba het gesê hy het ook ’n haarsalon uit sy woning bedryf.

“Vir my is dit ook ’n verlies aan inkomste.”
«Terug