KAAPSTAD. – Drie mense het gister in ’n padongeluk op die N7, ongeveer 200 m net ná die Melkbosstrand-afrit in die rigting van Kaapstad, gesterf.
Die slagoffers van die ongeluk, wat omstreeks 09:55 gebeur het, was almal insittendes van ’n minibustaxi wat glo op pad kerk toe was.
Volgens kapt. F.C. van Wyk, ’n polisiewoordvoerder, was ’n wit Toyota Quantum-minibustaxi met 13 insittendes, insluitend die bestuurder, en ’n wit Toyota Prado met twee insittendes, ’n ma en haar seun, by die ongeluk betrokke. Die taxi wou glo die Prado verbysteek.
“Twee van die passasiers het op die toneel gesterf en ’n derde het in die Groote Schuur-hospitaal aan sy beserings beswyk.”
Van Wyk het gesê paramedici het tien insittendes na verskeie hospitale weggebring.
“Die seun wat in die Prado gery het, is nie beseer nie, en is deur sy pa kom haal.”
Keri Davids, woordvoerder van die EMS-ambulansdiens, het gesê twee insittendes is per helikopter na die hospitaal gebring. “Van die ander insittendes is na die Wesfleur-, Groote Schuur-, Somerset- en Vincent Palloti-hospitaal gebring. Hulle is onderskeidelik vir ernstige en ligte beserings opgeneem.”
Volgens Davids was die vrou wat in die taxi was en op die toneel gesterf het, swanger.
Noodwerkers moes die dak van die Prado oopsny om die vrou wat daarin vasgekeer was, te bevry en vir behandeling na die hospitaal te bring.
Van Wyk het gesê die oorledenes se name kan nog nie bekend gemaak word nie. ’n Saak van strafbare manslag word ondersoek. Die pad is net ná 10:00 vir die verkeer gesluit en weer om 14:00 vir die verkeer heropen.
)Een man is Saterdag dood in ’n botsing tussen ’n vragmotor en ’n bussie op die pad tussen Beaufort-Wes en Drie Susters.
Die Burger