DieBurger WEBWERWE/DIENSTE >

‘ET-moord is beplan’

Deur: Susan Cilliers 2012-05-23 00:00

VENTERSDORP. – Daar is geen bewys dat Eugène Terre’Blanche vermoor is weens sy politieke oortuigings of beweerde haat vir swart mense nie, het regter John Horn gister gesê toe hy ’n voormalige werker hier aan dié moord skuldig bevind het.

Chris Mahlangu se aanval was wreed, beplan en sonder waarskuwing. Niks kan dit regverdig nie, het Horn gesê.

Niks het die getuienis van Terre’Blanche se vrou, Martie, weerspreek dat hy en Mahlangu goed oor die weg gekom het nie, het Horn gesê. “Sy het getuig Mahlangu het haar man om werk gesmeek en dat hy dit uit die goedheid van sy hart vir hom gegee het.”

Horn het Mahlangu se verweer verwerp dat hy op 3April 2010 in selfverdediging opgetree het toe hy die AWB-leier op sy plaas Witrandjiesfontein naby Ventersdorp vermoor het.

Hy het in die rondgaande hof Mahlangu se medebeskuldigde, Patrick Ndlovu (18), onskuldig bevind aan moord. Daar is nie bo redelike twyfel bewys hy was aktief by die moord betrokke nie, het Horn gesê.

Ndlovu is net skuldig bevind aan huisbraak met die opset om te steel. Hy kan nou die eerste keer geïdentifiseer word omdat hy nie meer minderjarig is nie.

Buite die hof was daar groot spanning tussen AWB-ondersteuners en betogers wat die beskuldigdes ondersteun. Die polisie het ingegryp toe ’n AWB-ondersteuner ’n wit pop by ’n betoger gegryp en dit stukkend gegooi het. Die pop is saam met ’n karton met die woorde “Sorry Martie” vertoon.

Hoewel die berugte lied “Skiet die Boer” ook gesing is, was daar geen verdere ernstige voorvalle nie.

Horn het in sy uitspraak gesê die patroon van bloedspatsels, Terre’Blanche se erge, noodlottige beserings en die feit dat hy geen selfverdedigingswonde gehad het nie, dui daarop dat hy onverhoeds betrap is terwyl hy op sy bed gelê het.

’n Stuk van sy skedel het in sy brein gesteek en sy kakebeen, ribbe en borsbeen het gebreek terwyl Mahlangu hom herhaaldelik met ’n ysterpyp geslaan het, het Horn gesê.

Horn het Mahlangu se bewerings dat Terre’Blanche hom gesodomiseer het, as ongegrond verwerp. “Dit is so ’n ingrypende daad dat hy dit dadelik sou opper. Hy het egter niks daaroor gesê met sy inhegtenisneming arrestasie, in sy verklaring of uitwysings nie. Dit het eers later by die agterdeur ingeglip.”

Die feit dat Mahlangu verkies het om nie te getuig nie, het teen hom getel omdat die bewyse teen hom so oorweldigend is en hy geen verklaring daarvoor kon gee nie, het Horn beslis.

Mahlangu is ook skuldig bevind aan huisbraak, roof met verswarende omstandighede omdat hy Terre’Blanche se selfoon gesteel het, en poging tot roof omdat hy probeer het om sy bakkie te steel.

Mahlangu en Ndlovu sal op 18Junie gevonnis word.

Die Burger
«Terug