PORT ELIZABETH. – Gervan Lubbe, eertydse miljoenêr en gevierde uitvinder, is gister hier tot effektief 20jaar gevangenisstraf gevonnis.
“Jy het almal wat met jou besigheid gedoen het finansiële pyn veroorsaak. Jy toon geen spyt of berou nie, behalwe vir die feit dat jy gevang is.”
Dít was landdros Leon Claassen se woorde aan Lubbe, wat doodstil voor hom in die Port Elizabethse handelshof gestaan het.
Lubbe, wat beweer het dat hy ’n toestel, so groot soos ’n horlosie, ontwerp het wat glo die malaria-parasiet in ’n mens se liggaam kan monitor en uitwis, is in Januarie vanjaar skuldig bevind op 19 aanklagte van bedrog en vervalsing.
Hy het talle mense gekry om in sy maatskappye, Gervans Trading, te belê, en ’n totaal van R21miljoen uit hulle geswendel.
“Sommige van jou beleggers het met jou agtergrond as ’n weeskind geïdentifiseer en jou met hul geld vertrou. Nou sit baie van hulle bankrot en sonder werk,” het Claassen gesê.
Claassen het voortgegaan en gesê die titel van Lubbe se outobiografie, Full Disclosure, wat glo ’n “topverkoper” sou wees, maar waarvan nie een eksemplaar verkoop is, is uiters ironies. “Jou outobiografie se titel beloof iets wat jou beleggers nooit ontvang het nie.”
Lubbe is in totaal 43jaar gevangenisstraf opgelê op die onderskeie aanklagte, maar omdat die vonnisse gelyklopend uitgedien sal word, sal hy effektief 20 jaar agter tralies deurbring.
Nadat hy gevonnis is, het Lubbe sy kop in stilte laat sak tot ao. Vernon Esau hom terug na sy sel gelei het. Hy het wel ’n paar woorde en ’n glimlag met Esau gedeel voor die deur agter hom toegeslaan het.
Die Burger