DieBurger WEBWERWE/DIENSTE >

Eienaar swyg oor brand op skip in Namibië

Deur: Elsabé Brits 2012-08-11 06:00

KAAPSTAD. – Die omstandighede waarin die kabelskip die Chamarel aan die Skedelkus aan die brand geslaan en toe gestrand het, blyk duister te wees.

Die eienaar van die skip, France Telecom-Orange, weier om enige besonderhede bekend te maak oor wat gebeur het toe die Chamarel Woensdagaand omstreeks 20:00 sowat 100 km noordwes van Walvisbaai aan die brand geslaan het.

Die bemanning het die skip verlaat en is deur twee ander bote opgepik.

Vrae wat Die Burger gister aan France Telecom-Orange gestuur het oor die toestand van die skip en die gevaar van ’n omgewingsramp is nie beantwoord nie. ’n Kort verklaring is egter gestuur.

Marc Ponselle, France Telecom se gehalte-, veiligheids-, en omgewingsbestuurder in Parys, het net “geen kommentaar” gesê en daarna die telefoon neergesit.

In die verklaring sê France Telecom-Orange daar was ’n “groot voorval op die Chamarel” en die oorsaak van die brand is nog nie bepaal is nie.

Ondersoek sal gedoen word sodra die skip herwin is en hulle sal met die Namibiese regering saamwerk om “die omgewingsimpak tot ’n minimum te beperk”. Die voorval sal nie ’n impak op die ondersese kabels in die gebied hê nie.

Die skip doen herstelwerk aan dié kabels en het teruggekeer nadat werk aan die Sat3-Safe-kabel gedoen is.

Daar was ten tyde van die brand 56 bemanningslede aan boord, meestal Suid-Afrikaners wat deur Smit Amandla Marine gekontrakteer is.

Clare Gomes, woordvoerder van Smit Amandla Marine, het gesê hulle sal die naweek na Suid-Afrika terugkeer.

“Berading sal aan hulle gegee word. Baie het al hulle persoonlike besittings in die brand verloor,” het sy gesê.

Die Burger
«Terug