DieBurger WEBWERWE/DIENSTE >

Eskom sê dis weer nag

Deur: James-Brent Styan 2012-06-15 00:00
KAAPSTAD. – Die land se kragnetwerk is onder geweldige druk, het Eskom gister gewaarsku.

Hy moes verlede jaar sowat R7 miljard bestee om beurtkragmaatreëls landwyd te verhinder en is nou bekommerd oor wat die res van die jaar gaan gebeur.

Die staatsbeheerde entiteit het gister sy jongste stel resultate vir die 12 maande tot 31 Maart 2012 aangekondig. Die groep het ’n wins van R13,2 miljard gemaak. In 2011 was dit R8,3 miljard.

Brian Dames, Eskom se uitvoerende hoof, het gesê die wins was grootliks te danke aan hoër kragtariewe.

Die surplusse is volgens hom noodsaaklik om Eskom te help om sy bouprogram te finansier. “Die winste word alles net so in die maatskappy teruggeploeg.”

Dames het gesê Eskom se kragnetwerk sukkel om kop bo water te hou, onder meer weens steenkoolprobleme en ou kragstasies. Die meeste van Eskom se kragstasies is ouer as 25 jaar en meer instandhoudingswerk is elke jaar nodig, wat moeilik is as die stelsel onder druk is.

“Ons het ook probleme met die hoeveelhede steenkool wat ons van verskaffers ontvang en die gehalte daarvan. Swakker graad steenkool beteken minder krag word gegenereer.”

Eskom is besig met ’n program van R340 miljard om nuwe kragstasies in Suid-Afrika te bou, maar dié kragstasies sal eers van volgende jaar begin krag lewer.

Van die stappe wat Eskom verlede jaar moes doen om kragsekerheid te verseker was:

  • Krag is teen R3,3 miljard by onafhanklike verskaffers gekoop. Dit is gelyk aan sowat 77c per kilowatt-uur. Eskom genereer krag teen sowat 51c/kWh.
  • Eskom moes R1,5miljard vir diesel vir sy kragopwekkers in die Wes-Kaap betaal, 281% meer as die vorige jaar. Dié kragopwekkers is bedoel om net in uiterste gevalle gebruik te word.
  • Altesame R1,8 miljard is in krag-terugkoop-transaksies aan ferrochroomsmelters betaal. Daarmee kon Eskom na raming 1 000 MW krag spaar.

Eskom se gemiddelde steenkoolkoste het verlede jaar met 17% gestyg terwyl kragverkope met slegs 0,2% toegeneem het.

Volgens Dames is dit nodig om dié jaarlikse verhogings tot enkelsyfers af te bring.

Malusi Gigaba, minister van openbare ondernemings, het gesê hy ondersoek die moontlikheid om steenkool tot strategiese hulpbron te verklaar.

“Dit kan beteken dat daar in die toekoms kwotas geplaas word op die hoeveelheid steenkool wat uitgevoer word. Ons gaan nog lank steenkool nodig hê en ons moet seker maak ons het genoeg steenkool van voldoende gehalte in Suid-Afrika,” het Gigaba gesê.

  Die Burger
«Terug