KAAPSTAD. – Die Kaapse stadsraad gaan aan elkeen van die 854 gesinne wie se hutte op Nuwejaarsdag in Khayelitsha afgebrand het ’n erf gee waarop munisipale dienste beskikbaar is.
Patricia de Lille, burgemeester van Kaapstad, het gister gesê die gesinne gaan eers tydelik in die omgewing van BM-seksie in Khayelitsha aanbly en elkeen gaan ’n eie erf kry.
Intussen gaan die BM-seksie herontwikkel word. “Ons het geluister na die voorstelle van die gemeenskap en kan nou voortgaan om ’n tydraamwerk, kostes, impak op die omgewing en voorbereidingswerk te bepaal.”
Sy het gesê die stadsraad is vasberade om die tragedie te omskep in ’n geleentheid om die lewensgehalte van inwoners te verbeter. “Dit is deel van die stadsraad se toewyding om ’n stad te bou wat omgee vir al sy inwoners en almal betrek, veral die arm mense.” – Marelize Barnard
Die Burger