KAAPSTAD. – ’n Gemeenskapsviskorporasie van Lambertsbaai wil ’n klag van bedrog teen ’n veilingsmaatskappy en ’n plaaslike inwoner indien.
Meermin Visserye CC, wat uit nege vroue bestaan, het gister dié besluit op ’n nuuskonferensie by die parlement aangekondig.
Die vroue voer aan hulle is verarm en sukkel om ’n bestaan te maak nadat hul viskwota glo sonder hul toestemming verkoop is.
Meermin beskik oor ’n pelagiese viskwota van 15 jaar wat in Desember 2020 verstryk.
Lulu Johnson, voorsitter van die parlementêre portefeuljekomitee oor landbou, bosbou en visserye, en verteenwoordigers van Meermin het die nuuskonferensie gister toegespreek.
Volgens Johnson is die vroue die afgelope twee jaar van hul geldelike voordele ontsê. “Hulle was slagoffers van bedrog en is onwetlik toegang tot hul viskwota geweier en het die inkomste wat hulle daaruit sou kry, verloor.”
’n Plaaslike inwoner het glo “onwetlik en sonder die wete of toestemming van Meermin” ’n kontrak namens hulle geteken wat hul kwota aan Compass Fi-shing Enterprises toevertrou het, het Johnson gesê.
Lya Louw van Meermin het gesê dié man was nie deel van hul korporasie nie.
“Hy het gesê hy sal vir ons geld gee. Ons het geen keuse gehad as om te teken nie. Ons moes die geld aanvaar omdat ons nie ’n inkomste gehad het nie,” het Louw gesê.
Elk van die vroue het R5000 ontvang.
Volgens Johnson het Meermin die veilingsmaatskappy Julius Buchinsky verlede jaar genader om hul visregte te verhuur om ’n inkomste te genereer.
Die streng reserwepryse waaraan die verhuring onderhewig was – tussen R1,5miljoen en R2miljoen – is nie behaal nie.
Die mariene en omgewingsbestuurskonsultantegroep Feike het volgens Johnson vasgestel dat Compass Fishing vroeër vanjaar na bewering R535000 aan Julius Buchinsky betaal het. Dit moes glo aan Meermin betaal gewees het.
Leno de Villiers, hoofbestuurder van Julius Buchinsky, het bevestig die groep is aangestel om Meermin se viskwotas vir drie jaar te verkoop, betalings te ontvang, Meermin se skuld te betaal, hul tariewe af te trek en die balans aan Meermin se lede te betaal. Tot dusver is R330000 in kontant aan Meermin betaal.
Volgens De Villiers het hy Meermin vroeër vanjaar ingelig dat hulle tegnies insolvent is.
“Weens die likwidasiedreigemente het Louw ons versoek om elke lid regstreeks te betaal om te keer dat die maatskappy gelikwideer word.”
Die maatskappy het onderneem om met Meermin se krediteure te onderhandel en stelselmatig te betaal.
Die Burger