DieBurger

‘Gryp in by Robbeneiland’

Deur: Rajaa Azzakani 2012-05-23 00:00
 KAAPSTAD. – Antwoorde op hul vrae oor die bestuur van Robbeneiland was gister vir die tweede week agtereenvolgens vir LP’s soos ’n rooi vlag voor ’n bul.

Die parlementêre portefeuljekomitee oor openbare werke het eenparig besluit dat die minister van openbare werke, Thulas Nxesi, sal moet ingryp weens die swak instandhouding van dié Wêrelderfenisgebied.

Phumuzile Ngwenya-Mabila, ANC-LP, het ’n dringende ondersoek geëis.

Dit volg nadat Fred Johnson, streekbestuurder van dié departement in die Wes-Kaap, gister antwoorde verskaf het wat strydig was met dié van verlede week.

Johnson het onder meer verlede week aangedui 40 F petrol word per week aangekoop vir ses voertuie en ’n rubberboot vir die departement se gebruik op die eiland. Gister het hy gesê dit is 40 F petrol per dag.

Vroeër het hy die hoë soutinhoud van die water geblameer vir geisers wat gereeld bars, maar gister het hy gesê geen geisers behoort te bars nie omdat die watergehalte- en waterdrukprobleme lankal uitgesorteer is.

Verlede week het hy gesê poste is intern geadverteer; gister dat dit ekstern geadverteer is.
 
Dr. Celiwe Madlopha, ANC-LP, het gesê dit lyk of die departement wil hê die werkswinkel op die eiland moet misluk sodat die werk uitgekontrakteer kan word.

LP’s was ook vies omdat Johnson gister gesê het dat slegs huise op die busroete (waar toeriste kom) geverf word. Dit was laas in 2010 gedoen.

Die ander huise op die eiland word net geverf as ’n versoek gerig word. Die departement se beleid is egter dat dit elke vyf jaar gedoen moet word.

Mpowele Swathe, DA-LP, wou weet wat regverdig die departement se standpunt om net huise op die busroete gereeld te verf. “Toeriste gaan nie wil terugkom as hulle verwaarloosde huise sien nie.”

Die komitee gaan middel volgende maand op ’n oorsigbesoek na die eiland.

Die Burger
«Terug