GEORGE. – Die vreugdevure brand hoog op Gouritsmond nadat die hof beslis het dat versperrings by sewe parkeer-ingange teen die kuslyn verwyder moet word.
Regter Siraj Desai het dié hofbevel Vrydag in die Wes-Kaapse hooggeregshof uitgereik.
Inwoners en hengelaars van dié visvangparadys sowat 50km wes van Mosselbaai was vroeër erg ontstoke nadat parkeer-ingange teen die kus met klippe versper is. ’n Nuwe plaaseienaar het onder meer aangevoer dat sy grond se grense tot aan die see se laagwatermerk strek.
Die applikant was die Gouritz Boot- en Hengelvereniging. Die eerste drie respondente is Silverspot Investments CC, Homewood Developments (Edms) Bpk. en The Trustees for the time being of the Tommy Joubert Trust.
Die ander vier respondente is die Hessequa-munisipaliteit, die Eden-distriksmunisipaliteit, die Wes-Kaapse minister van omgewingsake en ontwikkelingsbeplanning en die minister van water- en omgewingsake.
Die hof het gelas dat die eerste en die derde respondente, Silverspot Investments One CC en The Trustees for the time being of the Tommy Joubert Trust, die onderskeie versperrings dadelik moet verwyder.
Luidens die hofbevel moet lede van die publiek die gewilde hengelplekke Steentjiegat, oftewel Steentjie se Draai, Steentjiesloep (Gruisgat), Voëlklip, Skulpiestrand, Stywe Leisels oftewel Van Tonder se Baai, Haaikrans en Holkom met voertuie kan bereik. Dit sluit ook voetpaadjies by die onderskeie parkeer-ingange in.
Desai het verder gelas dat die vyfde respondent, die Eden-distriksmunisipaliteit, moet voldoen aan die Wet op Geïntegreerde Kusbestuur deur data in te samel oor grond binne ’n 10km-radius van Gouritsmond, met die oog op potensiële kus-toegangsroetes en die oprig van bakens. Dit sluit studies oor die impak op die omgewing in.
Die betrokke grondeienaars moet in kennis gestel word van die proses en ’n konsultasieproses moet gevolg word. ’n Verordening moet teen November 2013 geskep word ten einde die openbare toegangroetes na die kus binne ’n 10km-radius te klassifiseer.
Die Burger