DieBurger WEBWERWE/DIENSTE >

Inwoners bal vuis op Botrivier oor diens

Deur: Alet Janse van Rensburg 2012-05-29 00:00

BOTRIVIER. – Die Theewaterskloof-munisipaliteit het vir die soveelste keer die afgelope maand onder diensleweringsproteste deurgeloop toe inwoners van Botrivier dié dorp gister onregeerbaar probeer maak het.

Bykans 700 betogers het die strate omstreeks 03:00 met brandende bande, boomstompe en klippe begin versper om te verhinder dat inwoners en leerders die dorp verlaat. Verskeie stoptekens en straatname is gevandaliseer en een man is in hegtenis geneem vir aanranding en openbare geweld.

Die betogers het daarop aangedring dat die Theewaterskloof-burgemeester, Chris Punt, hulle toespreek en ’n lys van 31 eise aanvaar. Toe Punt teen 11:00 nie opgedaag het nie, het hulle die plaaslike munisipale kantoor se hek afgebreek en twee brandende bande voor die gebou gegooi.

“Ons eis dat die munisipaliteit onmiddellik vir ons 500 huise bou, die strate teer en ’n proses aan die gang sit om ’n hoërskool hier te bou,” het James Pheifer, ’n gemeenskapsleier, gesê. “Ons wag al 60 jaar vir beter dienste, maar hier gebeur niks.”

Hugo Geldenhuys van die Theewaterskloof-munisipaliteit se kommunikasie-afdeling het gesê die munisipaliteit is nie vooraf oor die betoging ingelig nie. Dit was dus onwettig.

“Die burgemeester is nie geneë om met die mense te praat as die betoging onwettig is nie,” het hy gesê. “Ons kommunikeer voortdurend met die gemeenskap deur die munisipaliteit se forum vir die monitering van diensvlakooreenkomste en ’n wykskomitee waarin verskeie gemeenskapsleiers dien. Die terugvoering van hierdie forums is positief en ons is dus verbaas oor die aanhoudende betogings.”

’n Verteenwoordiger van die nasionale departement van samewerkende regering en tradisionele aangeleenthede het die skare omstreeks 12:00 toegespreek en beloof om hul griewe met die munisipale owerhede te bespreek.

Die Burger
«Terug