JOHANNESBURG. – Motoriste wat moeg is vir ongeskikte medepadgebruikers het nou ’n forum op die internet om aan hul frustrasies uiting te gee.
Op www.drivelikeachop.co.za kan mense wat op dié webwerf ingeteken is oor padvarke kla.
Volgens die webblad is dit die aanlyntuiste om almal te vertel van die aap wat voor jou ingeswaai het, of wat te vinnig of roekeloos ry.
Intekenare kan ’n beskrywing van die voertuig, bestuurder en nommerplaat van die motoris gee.
Motoriste kan ook kyk of hul eie swak bestuursvernuf aangemeld is.
Die man wat die webwerf begin het, maar verkies om nie sy naam bekend te maak nie, het gesê hy het die idee ná eindelose klagtes van vriende gekry.
“Almal kla altyd oor hoe ander mense bestuur en hoe roekeloos minibustaxibestuurders is. Ek was self gatvol oor die verkeer in die middestad en het besluit om ’n forum te begin waar mense hul frustrasies kan uiter sonder om iets gevaarliks te doen.”
Hy het die webwerf in Augustus verlede jaar geregistreer en sedertdien kla dosyne mense landwyd daagliks.
“Ek wil hê mense moet in hul eie woorde vertel wat met hulle gebeur het en die besonderhede van die ‘oortreders’ bekend maak. As jy soos ’n tjop ry, verdien jy dit dat almal daarvan weet.”
Klagtes wat die afgelope twee dae geplaas is, sluit in:
- “Mense wat versuim om hul kinders veiligheidsgordels te laat aansit, hoort agter tralies. Idioot!” “Die wit lyne op parkeerterreine is daar sodat jy jou voertuig tussen en nie op die twee lyne nie kan parkeer. Dit maak seker seer om so dom te wees.”
- “Vir die tjop wat nie uit die pad van nooddiensvoertuie kon kom nie, besef jy dit kon die verskil tussen lewe en dood beteken het?”
Daar is ook heelwat klagtes oor minibustaxi’s en foto’s van ongemanierde bestuurders.
Daar geld sekere voorwaardes vir intekenare, waaronder dat hulle verantwoordelikheid vir die inhoud van hul plasings moet neem.
“Die drivelikeachop-platform moet verantwoordelik gebruik word en is daar om veilige bestuur te bevorder.”
Plasings sal verwyder word indien ’n klag ontvang word dat die inligting nie korrek is nie.
Die Burger