KAAPSTAD. – Pres. Jacob Zuma behoort ’n onafhanklike regterlike kommissie van ondersoek aan te stel om al die aantygings teen die omstrede lt.genl. Richard Mdluli te ondersoek.
Dié kommissie moet tot die kern van die aantygings deurdring. Dit behoort ook die mag te hê om aanbevelings te doen oor verdere optrede asook die aanstellingsproses van die nasionale polisiekommissaris.
Só het Gareth Newham, hoof van die misdaad- en justisieprogram by die Instituut vir Sekerheidstudies (ISS), gister gesê.
Die besluit die naweek om Mdluli vir ’n tweede keer te skors is volgens hom belangrik, maar is nie genoeg om die openbare vertroue in die polisie te herstel nie
“Die Mdluli-kwessie het enorme skade aan die beeld van die polisie aangerig. Ons het ’n lang pad om te gaan voordat die kwessie homself uitgespeel het.”
Die boodskap wat die besluit (om Mdluli ’n tweede keer te skort) deur lt.genl. Nhlanhla Mkhwanazi, waarnemende polisiehoof, uitstuur, is dat hy gewillig is om politieke druk te weerstaan.
“Dit toon dat hy ’n onafhanklike denker is en dat ons ’n ver pad gekom het. Ons het egter steeds ’n ver pad om te gaan om die enorme skade wat in die polisie aangerig is, te herstel,” het Newham gesê.
Opposisiepartye het die besluit verwelkom.
Dianne Kohler Barnard, DA-LP, het Mkhwanazi gelukgewens omdat hy politici met “verkiesingskoors” onder lede weerstaan en Mdluli weer geskors het.
“Die spoed waarteen Mkhwanazi uit sy pos geskuif gaan word, sal ’n aanduiding wees van hoe ernstig die regering die stryd teen misdaad beskou.”
Mdluli is sowat drie weke gelede ná politieke en openbare druk van sy pos as hoof van misdaadintelligensie onthef. Hy is na die eenheid van operasionele dienste oorgeplaas.
Sprake dat adv. Nkosinathi Nhleko, direkteur-generaal in die departement van arbeid, moontlik as polisiekommissaris aangestel kan word, voorspel egter volgens Kohler Barnard niks goeds vir die polisiediens nie.
“Dit sal rampspoedig wees as Nhleko, ’n beroepspolitikus met geen ervaring in die polisie nie, aangestel word.”
Die Burger