KAAPSTAD. – Die inhegtenisneming van vermeende perlemoenstropers die laaste ruk is net die oortjies van die seekoei.
Só het Tina Joemat-Pettersson, minister van landbou, bosbou en visserye, gister op ’n nuuskonferensie by die parlement gesê.
Die departement het die laaste paar weke reuse-sukses in die stryd teen perlemoenstropery behaal. In ses operasies in die Wes-Kaap verlede week is op meer as 30000 perlemoen beslag gelê en sewe mense in hegtenis geneem.
“Ek dink nie dit is die einde nie. Ek dink wat ons sien, is die oortjies van die seekoei. Of ons die res kan aankeer, sal die toets van ons moed wees.”
Die minister het voorts gesê ’n voorlopige ondersoek dui op korrupsie in die visseryedepartement waarby amptenare betrokke kan wees.
“Daar is korrupsie met die toekenning van kwotas, permitte en die oordrag van regte, asook voorkeurbehandeling vir sekere sake-ondernemings.
“Visserye is ’n baie belangrike komponent van voedselsekuriteit en ekonomiese ontwikkeling van ons land en die optimale funksionering daarvan behoort nie deur die wandade van enige individu in die wiele gery te word nie.”
Joemat-Pettersson het herhaal dat sy vasbeslote is om korrupsie uit te roei. Sy het die jongste suksesse aan samewerking tussen amptenare en die gemeenskap, asook nasionale en internasionale wetstoepassers, toegeskryf.
’n Internasionaal erkende ouditeursfirma vorm deel van ’n forensiese ondersoek na die departement van visserye. Sy wou nie die naam van die firma bekend maak nie omdat dit deur die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) aangestel is.
Volgens haar is die ondersoek baie sensitief en in ’n gevorderde stadium.
“Dit is hoëvlak-ondersoeke wat reeds tot suksesse gelei het. Die inhegtenisnemings die laaste paar weke het nie vanselfsprekend plaasgevind nie. Die bewyse is daar – ons maak vordering ... Dit hou verband met ander aktiwiteite wat verder ondersoek word.”
Volgens die minister is daar ’n “georkestreerde en ongegronde” veldtog om haar te diskrediteer.
“Ons moet weekliks vrae beantwoord oor mense wat ek binne die departement in die pad gaan steek. Ek dink daar is ’n indruk geskep dat ek op ’n heksejag teen amptenare is. Ek gaan egter nie daardeur geïntimideer, gedreig of geteister word nie.”
Die Burger