DieBurger WEBWERWE/DIENSTE >

Kroon van mooie se kop afgeruk ná sege

Deur: Piet Matipa 2012-08-03 06:00

PRETORIA. – Kort ná die kroning van Mej. Heelal Nieu-Seeland, wat oorspronklik van Suid-Afrika is, het ’n woedende organiseerder die kroon van haar kop afgeruk.

Val Lott wou hê Avianca Bohm (22) moes aan die kompetisie deelneem, maar sy moes net nie wen nie, het Bohm, ’n voormalige Pretorianer, gister gesê.

Lott het Bohm aanvanklik aangemoedig om aan skoonheidskompetisies deel te neem.

“Sy het my onderskat en nie gedink ek gaan wen nie. Vyf minute nadat ek van die verhoog af gegaan het, het sy gesê die verkeerde meisie het gewen,” het Bohm gesê.

Bohm het vandeesweek gehoor sy mag nie aan die Mej. Heelal-kompetisie deelneem nie omdat haar aansoek om Nieu-Seelandse burgerskap misluk het. Sy het in 2006 as 16-jarige saam met haar ouers na Nieu-Seeland verhuis.

In 2007 het Lott, organiseerder van Mej. Heelal Nieu-Seeland, die “skaam en teruggetrokke” Bohm genader om aan streekskoonheidskompetisies deel te neem.

Volgens Bohm wou Lott nie nee vir ’n antwoord aanvaar nie en het Lott geweet sy het nie Nieu-Seelandse burgerskap nie. “Sy het vir my gesê dit is nie ’n probleem nie en ek moet vir niemand sê nie.”

Lott het Woensdag op Nieu-Seelandse televisie erken sy het geweet Bohm het nie burgerskap van dié land nie.

“Ek wou hê sy moes deelneem om ervaring op te op te doen, maar ek het vir haar gesê sy kan nie wen nie,” het Lott gesê.

Bohm het egter gesê sy het haar titel nog nie amptelik verloor nie. “Ek gaan nie my titel oorgee nie.”

Die Burger
«Terug