DieBurger WEBWERWE/DIENSTE >

Land se koers dié week bepaal

2012-06-24 23:37

KAAPSTAD. – Die beleidsrigting wat Suid-Afrika oor die volgende vyf jaar gaan inslaan, sal dié week in Midrand bepaal word.

Meer as 4000 afgevaardigdes kom van môre by Gallagher Estate byeen vir die ANC se beleidskonferensie.

Beleidstandpunte oor onder meer ekonomiese transformasie, grondhervorming, nasionalisering, die media en die toekoms van provinsies sal hier deurtrap word.

Waarskynlik die belangrikste besprekingspunt gaan die kwessie van die “tweede oorgang” wees.

Die regerende party glo ’n tweede oorgang, oftewel ekonomiese en maatskaplike transformasie, is nodig om die politieke oorgang sedert 1994 aan te vul.

Aanvaarding van die besprekingsdokument in die nege provinsies is nie eenvormig nie.

Cosatu, die ANC se grootste alliansievennoot, het die dokument skerp gekritiseer en gewaarsku dat die massas dit sal ignoreer indien dit nie radikaal verander word nie.

“Dit toon deurlopend ideologiese teenstrydighede en wanopvattings.”

Cosatu sê die ANC se jongste beleidsdokumente staan in skerp kontras met die party se bestaande ideologiese grondslag.

Die vakverbond sê die idee van ’n tweede oorgang is onnodig en stel voor dat die ANC net sy bestaande beleid en beslissings toepas.

Cosatu sê hy sal nie toelaat dat die massas die dokument ignoreer nie omdat die ANC “ons beweging” is, en het meer radikale voorstelle gemaak. Dit sluit in die aftakeling van “wit monopolistiese kapitaal” en beter gehalte en toegang tot basiese dienste soos onderwys, gesondheidsorg, behuising en infrastruktuur.

Cosatu bevorder ook die nasionalisering van myne, banke, grond en ander monopolistiese nywerhede en eis beperkings op buitelandse eienaarskap oor alle sektore.

Politieke ontleders het gister voorspel dat die beleidskonferensie ’n bepalende faktor sal wees vir pres. Jacob Zuma se kanse om as ANC-leier herkies te word.

Die konferensie is ’n voorloper vir die ANC se leierskongres wat in Desember in Mangaung plaasvind.

Prof. Andre Duvenhage, politieke ontleder aan die Universiteit van Noordwes, het gister by navraag gesê ’n “groot magstryd” tussen Zuma en sy teenstanders is op hande. “Die beleidskongres is waar beleid uitgebou word om later toegepas te word. Die anti-Zuma beweging soek nou die morele hoë grond.”

Die Burger
«Terug