DieBurger

Landbou ‘sal moet genees’

Deur: Eugene Gunning 2012-12-23 22:28

MOSSELBAAI. – Fisieke én emosionele skade is aangerig tydens die onlangse onrus in landelike gebiede van die Wes-Kaap. Gevolglik sal emosionele genesing ook moet plaasvind, het Gerrit van Rensburg, Wes-Kaapse minister van landbou en landelike ontwikkeling, gesê.

Hy het met Die Burger gepraat oor gebeure in die Wes-Kaapse landbou die afgelope jaar.

Volgens Van Rensburg is dit jammer dat politieke leiers by die onrus betrokke geraak het en dit selfs goedgepraat het. “Almal het ’n reg om te staak, maar niemand het ’n reg om af te breek en af te brand nie. Die normale proses om die minimum loon vir 2013 vas te stel, het reeds begin onder leiding van die nasionale departement van arbeid.”

Hy het gesê landbou het seergekry in die onrus. “Verhoudings wat oor baie jare opgebou is, is deur vreemde mense vernietig. Daar is bewyse dat mense van buite aan die onrus deelgeneem het.

“Dit is in die breë van die ekonomie jammer wat gebeur het.

“Ons wil juis werksgeleenthede skep. Werkgewers en werknemers sal in die toekoms baie meer moet praat. Dit het reeds begin.”

Een van die gevolge van die onrus is dat boere in die toekoms twee keer gaan dink oor waar en hoe hulle hul geld gaan belê. “Boere gaan hul landboubelange so bestuur dat enige situasie soos die onrus so min as moontlik invloed op hul belange sal hê.”

Van Rensburg het onlangs briewe van rolspelers uit die vrugtebedryf in Europa ontvang. In dié briewe spreek hulle hul kommer uit of die Wes-Kaap nog sal kan voortgaan om vrugte te lewer vir die markte daar.

Hy het hoop dat die situasie kan herstel, maar brûe wat afgebrand is sal herbou moet word. “Mense sal met mekaar moet praat.”)Sy departement is van voorneme om in die eerste kwartaal van volgende jaar ’n Afrika-beraad te hou. Rolspelers sal koppe bymekaar sit om te kyk hoe geleenthede vir landbou in Afrika benut kan word.

“Daar is markte wat ons kan ontgin. Ons kan produkte uitvoer na Afrika en ons kundigheid beskikbaar stel. Dit beteken nie boere moet hul plase hier los nie. Daar is egter ’n nuwe geleentheid om ook uit te brei na Afrika.”

Die Burger
«Terug