DieBurger WEBWERWE/DIENSTE >

Luiperd nog vermis nadat hy raakgery is

Deur: Marelize Barnard 2012-08-18 07:00

KAAPSTAD. – Motoriste is gewaarsku om versigtig te bestuur op Clarence-rylaan nadat ’n Kaapse luiperd in die omgewing van Kogelbaai raakgery is.

Julia Wood, biodiversiteitbestuurder van die Kaapse stadsraad, het gesê personeel het ure lank met hul flitsligte na die beseerde luiperd gesoek nadat dit laataand op 6 Augustus raakgery is.

Daar was twee Kaapse luiperds in die pad.

Die beseerde luiperd het in die bosse ingevlug en dit is onduidelik of dié dier later dood is.

“Ons het onder elke bos in die omgewing na die beseerde luiperd gesoek. Dit is baie hartseer, want daar is só min Kaapse luiperds in die omgewing.”

Tien luiperds is al in dié omgewing – tussen Rooiels, die Steenbrasdam en Lourensford – afgeneem deur kameras wat op beweging reageer.

Wood het bestuurders daaraan herinner dat Clarence-rylaan nié ’n snelweg is nie. “Ry stadig, daar is baie diere in die omgewing.”

Klein diertjies – soos ystervarke, muskeljaatkatte, muishonde en uile – word gans te veel op dié pad tussen Gordonsbaai en Rooiels doodgery, het Wood gesê.

Motoriste wat diere langs Clarence-rylaan sien – hetsy gesond, raakgery of dood – moet die stadsraad se biodiversiteit-bestuurspan by 00218516962 bel of ’n e-pos stuur na steenbras.naturereserve@capetown.gov.za sodat die getalle aangeteken kan word.

Die Burger
«Terug