DieBurger

Madiba glimlag mooi, sê Hillary

Deur: Sapa-AFP 2012-08-07 06:00

QUNU. – Hillary Clinton, die Amerikaanse minister van buitelandse sake, het gister ’n private middagete met oudpres. Nelson Mandela en sy vrou, Graça Machel, hier by sy huis genuttig.

Haar besoek aan Mandela was die eerste op die program van haar Suid-Afrikaanse toer en is ’n aanduiding van die aansien wat Suid-Afrika se eerste swart president steeds geniet.

Die twee het voor die ete ’n gesprek gevoer, ’n eer wat baie min mense nog toegestaan word omdat Mandela se gesondheid broser geword het op sy oudag.

Mandela het nie gepraat nie, maar net geglimlag toe hy en sy Machel vir ’n foto saam met Clinton geposeer het.

“Dis ’n pragtige glimlag!” het Clinton gesê.

“Madiba se glimlag is ’n handelsmerk,” het Machel bygevoeg.

Clinton se man, Bill Clinton, was die Amerikaanse president toe Mandela president geword het.

Die twee families het sedertdien noue bande ontwikkel en Bill Clinton het verlede maand ’n besoek aan Mandela gebring op die vooraand van sy 94ste verjaardag.

“Madiba is nie net verteenwoordigend van alles wat groots is in die wêreld nie, maar is iemand wat ’n persoonlike vriend van die minister is. . .iemand by wie sy baie geleer het,” het ’n Amerikaanse amptenaar voor gister se gesprek gesê.

’n Dosyn polisielede het buite die huis in die dorpie in die Oos-Kaap gewaak.

Hillary Clinton het Mandela drie jaar gelede by sy huis in Johannesburg besoek en die invloed wat hy op haar lewe gehad het, besing.

Terwyl Clinton gister by Mandela gekuier het, het ’n Amerikaanse sake-afvaardiging ’n handelsvergadering met Suid-Afrikaanse maatskappyhoofde in Johannesburg gehou.

“Suid-Afrika is strategies belangrik vir Amerika se handelsbelange op die kontinent,” het Scott Eisner, visepresident van Afrikabelange by die Amerikaanse Kamer van Koophandel, gesê.

Clinton sal nog tot Donderdag in Suid-Afrika wees.

Die Burger
«Terug