DieBurger WEBWERWE/DIENSTE >

Madiba se toestand dieselfde

Deur: Philda Essop 2012-12-23 22:28

KAAPSTAD. – Oudpres. Nelson Mandela se toestand is onveranderd sedert pres. Jacob Zuma se besoek eergister aan die 94-jarige oudstaatshoof, het die presidensie gistermiddag gesê.

Gister was Madiba se 16de dag in ’n Pretoriase hospitaal.

Mac Maharaj, Zuma se woordvoerder, het gister gesê daar is “niks nuuts” oor Madiba se toestand te sê nie.

“Die president het hom van die liefde en ondersteuning van alle Suid-Afrikaners – oud en jonk – en die hele wêreld verseker.

“Ons doen ’n beroep op alle Suid-Afrikaners om voort te gaan om in dié tyd vir ons geliefde Madiba te bid.

“Ons harte is by die ganse familie,” lui die verklaring.

Boodskappe van beterskap stroom steeds in.

“Die boodskappe word per e-pos ontvang en ons is sedert die afgelope week almal met verlof. Dit is dus moeilik om te sê of daar ’n toename in die wense was,” het Sello Hatang, woordvoerder van die Nelson Mandela-stigting, by navraag gesê.

Mandela is op 8 Desember per vliegtuig van sy huis in Qunu in die Oos-Kaap na Pretoria gebring vir mediese behandeling. Dokters het intussen ontdek hy het galstene, wat toe in ’n suksesvolle operasie verwyder is.

Zuma het Mandela se toestand verlede Donderdag tydens sy sluitingsrede by die ANC se nasionale konferensie in Bloemfontein as “ernstig” bestempel, maar bygevoeg dat Madiba “op behandeling reageer” en sy toestand “deurlopend verbeter het in die voorafgaande dae”. - Philda Essop

Die Burger
«Terug