DieBurger WEBWERWE/DIENSTE >

Malema, Shivambu vra Zille ekskuus

Deur: Carryn-Ann Nel 2012-06-15 00:00

KAAPSTAD. – Rassebeledigings in Suid-Afrika sal voortaan as lasterlik beskou word.

’n Streep is gister in die sand oor sulke beledigings getrek deur die bevel wat deur die Wes-Kaapse hooggeregshof uitgereik is in die geding tussen haar, Julius Malema en Floyd Shivambu, het Helen Zille, Wes-Kaapse premier, gesê.

Malema en Shivambu het, nadat ’n ooreenkoms tussen die partye bereik is, Zille “onvoorwaardelik” om verskoning gevra vir lasterlike uitlatings wat hulle in 2010 oor haar gemaak het.

“Ek hoop dit gaan ons politiek verander, sodat ons oor die regte kwessies kan debatteer,” het Zille gisteraand aan Die Burger gesê.

“Daar is geen plek vir ongegronde lasterlike uitlatings in ons samelewing nie. Politiek moet oor kwessies gaan, nie ongevraagde en ongegronde beledigings nie.”

Malema en Shivambu het Zille reeds gister skriftelik om verskoning gevra.

Zille het in 2010 ’n eis van R1,4miljoen teen Malema, Shivambu en die ANC-jeugliga ingestel ná uitlatings in 2009 en 2010 waarin sy onder meer ’n “rassistiese meisie” genoem is.

Malema was destyds die leier van die jeugliga en Shivambu die woordvoerder. Albei is intussen uit die ANC geskors.

Malema het in Julie 2010 in spesiale pleitstukke aangedui dat Zille se eis teengestaan word en dat die uitlatings ingevolge sy reg op vryheid van spraak gemaak is.

Malema het vroeër vanjaar aan Die Burger gesê hy hoop om die geding deur middel van ’n “moederlike” gesprek op te los. “Dit moet op ’n moeder-en-kind-manier opgelos word, wat ook al die verskille is.”

Toe Die Burger Zille gevra het of sy en Malema oor die kwessie gepraat het, het sy geantwoord: “Hy het nooit self met my gepraat nie. Hy het iemand gestuur.”

Shivambu wou nie kommentaar lewer op die hofuitspraak nie. Malema het nie sy foon geantwoord of op ’n SMS van Die Burger gereageer nie.

Die Burger
«Terug