DieBurger

Man later gevonnis vir moord op ET

Deur: Susan Cilliers 2012-06-19 00:00

VENTERSDORP. – Wat ’n dag van afsluiting moes wees vir die familie van die vermoorde Eugène Terre’Blanche, het gister in fru­strasie ontaard toe die vonnisoplegging van sy moordenaar hier met twee maande uitgestel is.

Chris Mahlangu, wat skuldig bevind is aan die moord, en Patrick Ndlovu, wat vrygespreek is aan die moord maar aan huisbraak skuldig bevind is, se vonnisoplegging is tot 20 tot 24Augustus uitgestel.

Dit was nodig omdat die proefbeampteverslag van Johan Engel van die departement van maatskaplike ontwikkeling oor Ndlovu nog nie afgehandel is nie.

Engel het minstens ses weke daarvoor nodig, het die hof gister gehoor. In die verslag sal onder meer aandag gegee word aan Ndlovu se persoonlike omstandighede en die invloed van die misdryf op die Terre’Blanche-familie.

Ndlovu was minderjarig toe hy en Mahlangu op 3April 2010 saam by Terre’Blanche se plaashuis ingebreek het en hy vermoor is. Die staat kon nie Ndlovu se betrokkenheid by die moord bewys nie. Erkennings wat hy gemaak het, is nie toegelaat nie omdat sy regte as minderjarige geskend is.

Gister het Terre’Blanche se familie met groot afwagting in die rondgaande hof gesit. Onder andere sy weduwee, Martie, het gehoop die vonnis sal ’n einde aan ’n traumatiese hoofstuk in hul lewe bring.

Die uitstel daarvan was gevolglik ’n groot teleurstelling, het Steyn van Ronge, AWB-leier, namens Martie en die res van die familie gesê. “Nou kan hulle en ons (Terre’Blanche se ondersteuners) steeds nie die emosionele pad klaar stap nie. Ons hoop Mahlangu word lewenslange gevangenisstraf opgelê.”

’n Klein groep AWB-ondersteuners het buite die hof in uniform gestaan en onder meer Vierkleurvlae laat wapper. ’n Groep mense wat die beskuldigdes ondersteun, het plakkate gehad en gesing.

Die Burger
«Terug