DieBurger WEBWERWE/DIENSTE >

Man sit 20 j. vir moord op boer

Deur: Carryn-Ann Nel 2012-06-22 00:00

KAAPSTAD. – Selfs met die beste sekerheid het die Stellenbosse plaaseienaar Alberto Costa nie ’n kans gehad toe hy verlede jaar vermoor is nie.

Regter Robert Henney het gister een van Costa se moordenaars, Vicicelo Madolo (27), ná ’n pleit-en-vonnisooreenkoms tot 20 jaar tronkstraf gevonnis nadat die aanvanklike ooreenkoms met die staat 17 jaar effektiewe tronkstraf was.

Costa (44) is op 18Februarie verlede jaar voor die deur van sy plaashuis by Stellenbosch doodgeskiet toe hy ondersoek na ’n inbraak gaan instel het.

Die ander drie beskuldigdes is Mfundiso Yese (25), alias Getho, Simamkele Mralaza (29) en Cedric Mphakati (27). ’n Vyfde verdagte is nog soek.

Die verhoor teen die drie begin op 30Julie.

Henney wou die afgelope week eers oor die pleit-en-vonnisooreenkoms be­sin.

Hy het gister gesê hy is steeds van mening dat 17 jaar tronkstraf vir Madolo nie gepas is nie. Henney se gepaste vonnis is 25 jaar, maar omdat daar met betrekking tot pleit-en-vonnisooreenkomste ander omstandighede is, is hy van mening dat 20 jaar tronkstraf gepas is.

Madolo se regsverteenwoordiger, adv. Theresa Ruiters, het aan Henney gesê: “My instruksies is dat hy skuldig wíl pleit. Ek het alles aan hom verduidelik en hy aanvaar die vonnis van 20 jaar.”

Henney het gesê een van die redes waarom die aanvanklike vonnis nie vir hom gepas was nie, was die feit dat Madolo (in sy pleitverduideliking) noem dat hy en Yese op ’n vorige geleentheid by die plaas ingebreek het. ’n Alarm het afgegaan en hulle het gevlug. “Dit het hulle egter nie gekeer nie en hulle het teruggegaan, en dit dié keer beter beplan.”

Die tweede keer was hulle vyf mans, elkeen gewapen. Die plaas het elektriese omheining en die vyf mans het ’n gat gegrawe om toegang tot die plaas te kry. Toe Costa ondersoek gaan instel, is hy doodgeskiet.

“Wat anders kon die oorledene doen? Hy het alles gedoen om sy familie en ­eiendom te beskerm. Dit is die tipe dinge waardeur baie Suid-Afrikaners op ’n daaglikse basis gaan,” het Henney gesê.

“Ál vyf mans was gewapen. Hulle het geweet die huismense was tuis. Die huis het besonderse hoë sekerheid: hoë mure, elektriese omheinings, sekerheidstelsels en ’n alarm. Selfs met die beste sekerheid blyk dit dat die oorledene nie ’n kans gestaan het nie.”

Madolo sal in die verhoor vir die staat getuig.

Die Burger
«Terug