DieBurger WEBWERWE/DIENSTE >

''Marikana se myners is in rug geskiet''

Deur: Philda Essop en Jan-Jan Joubert 2012-08-22 04:45

KAAPSTAD. – Die polisie het stakende mynwerkers in die rug geskiet terwyl hulle weggehardloop eerder as aangeval het.

Só het opposisiesprekers gister hier in ’n parlementêre debat oor die Marikana-myntragedie gesê.

Minstens vier werkers wat by dié Rustenburgse myn beseer is, is in die rug geskiet, het dr. Wilmot James, DA-LP, en verskeie ander parlementariërs wat slagoffers in die mynhospitaal besoek het in die debat gesê.

“Hoe skiet jy iemand in die rug? Dit is die werk van lafaards,” het James gesê.

Eerw. Kenneth Meshoe, ACDP-leier, het die polisie se optrede veroordeel en dit as verkeerd en onvanpas bestempel. “Drie van die werkers wat ons in die hospitaal besoek het, is in die rug geskiet. Ek wonder hoeveel van dié wat gesterf het, is ook in die rug getref.”

’n Gedempte atmosfeer het in die Nasionale Vergadering geheers.

Verskeie sprekers wou weet wie die polisie opdrag gegee het om skerp ammunisie te gebruik.

Hulle het ook die militarisering van polisierange veroordeel.

Dianne Kohler Barnard, DA-LP, het Nathi Mthethwa, minister van polisie, as ’n “leë pak klere” bestempel en gesê: “Die minister moet verantwoordelik gehou word omdat hy soos ’n flou makou teruggesit het terwyl die vorige polisiehoof, Bheki Cele, militêre range vir die polisie ingestel het.

“Dit het gepaardgegaan met ’n kultuur van brute krag, sterkmanstaktiek en dodelike geweld.”

Die dood van Andries Tatane, wat verlede jaar ten tyde van ’n diensleweringsbetoging op Ficksburg gesterf het, moes volgens haar aangedui het wat in die toekoms kan gebeur.

Die Cope-leier, Mosiuoa Le­kota, het die politieke alliansie van die regerende party met Cosatu-vakbonde, soos die National Union of Mineworkers (NUM) en Popcru, as ’n bekommernis geïdentifiseer.

Sommige lede van NUM het weggebreek om by ’n ander vakbond, die Association of Mineworkers and Construction ­Union (Amcu), aan te sluit. “Wat sal die publiek oortuig dat die opdrag om Amcu-lede te skiet nie met die verwerping van NUM, ’n filiaal van die regerende party, verband hou nie?”

Hy het Susan Shabangu, minister van mynwese, daarvan beskuldig dat sy net met die NUM wil vergader.


Die Burger
«Terug