JOHANNESBURG. – Die media mislei die publiek en is die mondstuk van faksies in die ANC, het dr. Blade Nzimande, minister van hoër onderwys, gister in ’n verklaring gesê.
Hy het teen die media uitgevaar en gesê die media het die afgelope week se ANC-beleidskongres in Midrand verkeerdelik voorgehou as een van chaos en verdeeldheid, terwyl die party nog nooit so verenig was soos nou nie.
“Wanneer ons dié kwessies aan die media voorhou, beweer hulle ons is vyandig teenoor hulle. Dit is ver van die waarheid. Waarteen ons dit het, is die intellektuele oppervlakkigheid, kwaksalwery en die misbruik van mediavryheid om faksievorming in ons organisasie na te jaag.”
Nzimande het gesê sommige koerante het geskryf oor “ ’n kongres wat nooit gebeur het nie”.
“As enigiemand bewyse soek dat die Suid-Afrikaanse media ten ergste ’n georganiseerde opposisiestem teen die ANC en die regering is, en ten beste ’n faksiespeler in die politiek van ons beweging, hoef hulle nie verder te soek as die opskrifte van Sondagkoerante van die afgelope naweek nie.”
Volgens Nzimande is berigte dat lyfwagte pres. Jacob Zuma Vrydagaand by die saal moes uitlei toe gemoedere onder afgevaardigdes van Noordwes opgevlam het, versin.
“Regtig? Hier is wat gebeur het: ’n Afgevaardigde van Noordwes het die mikrofoon gegryp en ’n ander afgevaardigde wat besig was om te praat, weggestoot.
“Die voorsitter van die sessie, kameraad Jeff Radebe (minister van justisie en ANC-hoof van beleidsake), het die bestuurskomitee van die ANC gevra om die kwessie buite te bespreek. Dit is toe dat die president die saal verlaat het, en hy is geensins weggelei nie.”
Anders as wat die media berig het, is die kongres gekenmerk deur hoë vlakke van debattering en afgevaardigdes het “intellektuele diepte en nougesetheid” gewys, het Nzimande gesê.
Volgens hom was dit die mees suksesvolle beleidskongres in die ANC se geskiedenis en is die gesingery oor leiers in die party deel van die ANC se kultuur en nié ’n teken van verdeeldheid nie.
Die media moet ophou om alles wat in die ANC en die regering gebeur aan die ANC-verkiesingskongres in Mangaung toe te skryf en moet wegdoen met “twyfelagtige anonieme bronne”, het Nzimande gewaarsku.
Die Burger