DieBurger WEBWERWE/DIENSTE >

Meer Kersgeld, maar...Só het dit gestyg:

Deur: Carryn-Ann Nel 2012-12-23 22:28

KAAPSTAD. – Huishoudings draai dié Kersfees hul sente minder om as verlede jaar.

Die goeie nuus is dat verbruikers en huishoudings se beursies vir Kersfees vanjaar nié kleiner as verlede jaar is nie. Suid-Afrikaners verdien volgens ekonome in die algemeen meer as wat hulle verlede jaar Kersfees verdien het.

Boonop verwag ekonome voedselpryse kan in 2013 teen ’n stadiger tempo styg as vanjaar.

Die slegte nuus is egter dat ons besteebare inkomste die afgelope jaar teen ’n stadiger tempo toegeneem het as in 2011.

“In die ekonomie praat ons van groei. Ons inkomste is meer, maar die groei in 2012 aan besteebare inkomste is minder as in 2011,” het Johann van Tonder, ’n ekonoom van die Buro vir Marknavorsing aan Unisa, gesê.

Om hierdie te kon waarneem, is daar onder meer na die jongste statistieke van die Suid-Afrikaanse Reserwebank gekyk.

“In die derde kwartaal van 2012 het ons besteebare inkomste teen ’n tempo van 2,6% toegeneem teenoor die 3,5% in die tweede kwartaal van 2012.

“Trouens, sedert die vierde kwartaal van 2011 het die tempo waarin besteebare inkomste toegeneem het, elke kwartaal stadiger geklim.”

Die afplatting in huishoudings se besteding word weerspieël deur kleinhandelverkopesyfers wat deur Statistieke SA bekend gemaak is.

In die eerste 10 maande van 2012 het kleinhandelverkope met 4,7% toegeneem (in vergelyking met die eerste 10 maande van 2011), terwyl dit met 5,5% toegeneem het in die eerste tien maande van 2011 in vergelyking met die eerste 10 maande van 2010.

Wat voedselpryse betref, het kos die afgelope jaar met sowat 8% gestyg, het Dawie Roodt, ’n ekonoom van die Efficient Group, gesê.

Die prys van kos word deur ’n magdom faktore beïnvloed, het hy gesê. Dit sluit onder meer internasionale ekonomiese groei, natuurrampe (droogtes, verspoelings, aardbewings, brande), diere- en plantsiektes en die wisselkoers van die rand in.

Volgens Van Tonder kan daar nie met sekerheid gesê word hoe voedselpryse in 2013 gaan lyk nie.

“Dit gaan veral bepaal word deur Amerikaanse en Europese beleidmakers, met ander woorde of hulle hul ekonomiese probleme gaan oplos of nie. Indien wel, kan die vraag na voedsel toeneem, wat ook pryse kan verhoog. Maar terselfdertyd kan dit die wisselkoers van die rand laat verstewig, wat weer afwaartse druk op voedselpryse kan plaas.

“Dus, wat met voedselpryse gaan gebeur, gaan grootliks afhang van of Amerikaanse en Europese beleidmakers die skuldprobleme in hul lande gaan oplos al dan nie, asook of plaaslike boere ’n goeie oesjaar gaan hê al dan nie.”

Die Burger
«Terug