Polokwane. – Die verbintenis tussen Angie Motshekga, minister van basiese onderwys, en EduSolutions, wat die tender gekry het om boeke by skole in Limpopo af te lewer, moet ondersoek word.
Annette Lovemore, DA-woordvoerder oor onderwys, het gister in ’n verklaring gesê Motshekga het al sedert 2008, toe sy LUR van onderwys in Gauteng was, noue bande met EduSolutions.
Volgens Lovemore het die maatskappy ’n onwettige tender van R320miljoen gekry vir die verskaffing van boeke aan skole in Limpopo.
Lovemore het gesê die tender is nooit deur die regte prosedures nie en is ook nie goedgekeur nie.
Die tender moes gekanselleer word toe die nasionale onderwysdepartement in Desember beheer oor die Limpopo-onderwysdepartement oorgeneem het. Lovemore het gesê die kontrak is nooit gekanselleer nie.
Dr. Anis Karodia, die voormalige administrateur van die onderwysdepartement, het volgens City Press gesê Motshekga wou nie die kontrak kanselleer nie.
Dit het ook aan die lig gekom dat die provinsiale onderwysdepartement verlede jaar nooit skoolhandboeke vir gr.1 tot 3 (grondslagfase) en gr.10-leerlinge bestel het nie.
Dickson Masemola, LUR vir onderwys, het Vrydag op ’n nuuskonferensie gesê die boeke kon nie bestel word nie, want daar was nie geld nie. Motshekga het op dieselfde nuuskonferensie gesê sy het in Februarie met die nasionale tesourie vergader om geld te kry vir die handboeke. Die boeke is toe by pakhuise in Limpopo afgelewer maar nie na skole versprei nie.
Die sage het in die Pretoriase hooggeregshof gedraai toe Section 27, wat openbare belang voorstaan, ’n dringende aansoek gebring het dat boeke afgelewer moet word. Die hof het gelas die boeke moet teen 15 Junie afgelewer word. Dié spertyd is gemis.
Motshekga het onderneem dat alle skole Woensdag boeke sal hê.
Die Burger