KAAPSTAD. – Die Wes-Kaapse onderwysdepartement (WKOD) het ál die handboeke wat bestel is en deur die diensverskaffers verkry is by die skole afgelewer waar die ANC aanvoer daar ’n tekort aan skoolboeke is.
Paddy Attwell, woordvoerder van die WKOD, het gister gesê dit is onwaar om te sê dié departement het nie die handboeke afgelewer nie.
Die skole wat deur die ANC en die onderwysvakbond Sadou besoek is en waar hulle aanvoer daar ’n tekort is, is die Wallacedene-, Bloekombos-, Ekuthuleni- en Enkulukweni Primêre Skole.
Die ANC het intussen in ’n verklaring gesê die Wes-Kaapse minister van onderwys, Donald Grant, behoort afgedank te word oor wat dié party as ’n skandaal beskryf.
Volgens die ANC is Grant se “herhaalde ontkenning” van enige probleme in sy departement ’n duidelike teken dat daar “’n groter onderliggende probleem” is.
“Grant probeer die aandag aflei van wat kinders nié gekry het nie deur die fokus te laat plaas op wat hulle wel gekry het.”
Attwell het gister gesê ’n tekort aan handboeke ontstaan waar die getal leerders deur die jaar toegeneem het, waar skole nie genoeg handboeke bestel het nie en waar diensverskaffers nie in staat was om dadelik die boeke te verskaf wat bestel is nie.
Die WKOD het ook inligting beskikbaar gestel wat bevestig dat alle skole die handboeke gekry het wat hulle vir die verskillende grade bestel het.
Attwell het gesê die onderwysdepartement is wel bewus van ’n tekort by Bloekombos nadat die diensverskaffer ’n fout begaan het. “Die departement het die boeke weer bestel en daar word verwag dat die boeke afgelewer sal word voordat die derde kwartaal begin.”
Ekuthuleni het in die eerste kwartaal ’n tekort aan gr. 6-werkboeke aangemeld en het dié boeke in Maart van die nasionale departement van basiese onderrig ontvang. Handboeke word deur die provinsiale departement en werkboeke deur die nasionale departement gelewer.
“Indien daar enige bykomende tekorte is, is dit nie deur die onderskeie skole by die departement aangemeld nie,” het Attwell gesê.
Volgens hom gaan die WKOD die kwessie ondersoek.
“Onthou, dit is die verantwoordelikheid van die skole om ook seker te maak dat hulle die nodige handboeke het en bykomende bestellings te plaas indien dit nodig is,” het Attwell bygevoeg.
Die Burger