STELLENBOSCH. – Minki van der Westhuizen se Vera Wang-skepping in naaswit organza het almal wat dié Wellington-troue Vrydag dopgehou het, gaande.
Sy kry ook ’n A+ van Suid-Afrika se modekenner en ontwerper, Simon Rademan.
“Dit is ’n aangename verrassing ná haar vorige trourok. (Sy was voorheen getroud met die Stellenbosse sakeman Constant Visser.)
“Tóé het sy te veel cleavage gewys. Ek was nogal uitgesproke die eerste keer, maar duidelik is sy hierdie keer ’n bietjie ernstiger oor haar troudag.
“Dis ’n stylvolle rok, pragtig, modieus, met ’n lyn wat ons die laaste tyd dikwels sien en waarvoor bruide nou nogal lief is. Dis ’n baie suksesvolle skepping,” het Rademan gesê.
Van der Westhuizen, een van Suid-Afrika se glanspersoonlikhede – danksy haar hoëprofiel- modelloopbaan en haar werk as Pasella-aanbieder – se huwelik met ’n voormalige Goue Leeus-kaptein, Ernst Joubert, is Vrydag in die NG Moederkerk op Wellington bevestig.
Kim Kennedy, ’n strooimeisie, het vertel Minki is in November verlede jaar saam met een van die ander strooimeisies, Karlien van Rhyn, New York toe om haar trourok by dié Amerikaanse ontwerper se winkels te gaan uitsoek.
Vera Wang se “White Collection” kan aangepas en onmiddellik gekoop word.
Die afskouerrok met sy noupassende, geplooide lyfie maak met ’n ry knopies aan die linkerkant vas.
Om die middel is ’n silwer diamanté-band wat in ’n strik agter eindig. Dieselfde silwer diamanté is in ’n haarknip gebruik wat ’n lang sluier agter haar kop in plek hou.
Die asimmetriese kapsel wat aan die een kant in ’n sagte chignon gevou is, herhaal die rok se asimmetriese snit. Dis versorg deur Jeanette Genis, bekende Kaapse haarkapster.
Die vier strooimeisies was elk in ’n vourok van donker fuschia-pienk getooi. Die rekbare lap laat toe dat elkeen die bostuk en skouers kon vou en draai soos sy wil sodat hulle nie identies lyk nie.
Lana van Heerden van die Strand was die skepper van dié vier uitrustings.
Die Burger