DieBurger

Moordklagte maak opslae in buiteland

Deur: Leopold Scholtz 2012-09-01 07:00

DEN HAAG. – Die besluit van die nasionale vervolgingsgesag (NVG) in Suid-Afrika om die stakende Marikana-mynwerkers aan te kla van moord op die 34 werkers wat deur die polisie doodgeskiet is, het ’n verdere golf van negatiewe ­publisiteit in die buitelandse media tot gevolg gehad.

Op die Europese vasteland het die meeste koerante saaklik verslag oor die saak gedoen, maar hulle het wel prominent vermeld dat die NVG staatmaak op die “gemeenskaplike-doelstelling”-beginsel in die Suid-Afrikaanse reg wat nog van die apartheidstyd dateer.

Daarvolgens is ’n teenwoordige wat hom deur sy dade met ’n misdaad vereenselwig net so skuldig, al het hy nie self die misdaad gepleeg nie.

Sover bekend, was Le ­Parisien die enigste wat kommentaar gelewer het deur die maatreël ’n “inherente fout” in die Suid-Afrikaanse reg te noem.

Die Angel-Saksiese media het aansienlik verder gegaan: The Daily Telegraph (Londen) se Aislinn Laing het die aanklagte vanuit Johannesburg “’n bisarre kronkeling” genoem en daarop gewys dat geeneen van die skietende polisiebeamptes aangekla is nie.

Sy, soos verskeie ander, het ook gewys op bewerings dat van die mynwerkers wat dood is doelbewus deur polisiepantservoertuie platgery of in die rug geskiet is.

In The Independent ­(Londen) noem Alex Duval Smith in Kaapstad die aanklagte “die laaste terugslag vir vredesvooruitsigte in die Suid-Afrikaanse mynwese”. Hy berig ook dat slegs 25 aangeklaagdes tegelyk in die hof mag verskyn en haal hul regsverteenwoordiger, Lesego Mmusi, aan dat dit ’n oortreding van hul reg op ’n regverdige verhoor is: “Hoe is dit ’n regverdige verhoor as jou borgtogaansoek in die hof aangehoor word en jy mag nie daar wees nie?”

Lydia Polgreen skryf in The New York Times van “’n obskure regsleer” en noem die klagte “die laaste verstommende draai” in die Marikana-gebeure.

Die Burger
«Terug