KAAPSTAD. – “Dié uitspraak is die begin van die einde van die spesiale behandeling wat die mynbedryf dekades lank ontvang het.”
Dít was gister die reaksie van die Sentrum vir Omgewingsregte op die konstitusionele hof se uitspraak dat niemand mag myn as ál die wette nie nagekom word nie.
’n Mynlisensie van die nasionale minister van minerale bronne is dus nie genoeg nie – provinsiale en plaaslike owerhede móét die korrekte sonering doen en die omgewingsimpakstudies moet ook in orde wees.
Die keerpunt was twee sake wat uiteindelik in die konstitusionele hof gaan draai het: een was vir die myn van sand naby Mitchells Plain en die ander vir die myn van graniet in die Malmesbury-omgewing. Die grond is in albei gevalle nie deur die plaaslike owerhede vir mynbedrywighede gesoneer nie.
“Daar mag nie gemyn word indien sonering nie plaasvind nie. Baie min myne werk binne die regte sonering,” het me. Melissa Fourie, hoof van die sentrum, gesê.
“Maar van groot belang is dat die Wet op die Ontwikkeling van Minerale en Petroleum-hulpbronne nie provinsiale wetgewing troef nie. Vir te lank het die mynbedryf gefunksioneer onder die indruk dat myn-goedkeuring swaarder geweeg het as enige ander wetsvereistes,” het die sentrum in ’n verklaring gesê.
Dr. Deon Nel van die Wêreldnatuurfonds in Suid-Afrika het ook die uitspraak verwelkom en gesê die mynbedryf kan nie uitgesonder word nie wanneer alle ander ekonomiese bedrywighede onderworpe is aan behoorlike prosedures, beplanning en omgewingsbestuur .
Mnr. Anton Bredell, Wes-Kaapse minister van plaaslike regering, omgewingsake en ontwikkelingsbeplanning, het by navraag gesê: “Die Wes-Kaap is ’n biodiversiteit-sensitiewe landskap binne ’n konteks van ekonomiese groeimoontlikhede. Die uitspraak plaas klem op die belangrikheid daarvan dat alle sfere van die regering moet saamwerk.”
Dit vereis ’n gedissiplineerde benadering tot die natuurlike omgewing en die skepping van ekonomiese geleenthede, het hy gesê.