DieBurger

‘Niks fout met ANC-geldfirma’

Deur: James-Brent Styan 2012-12-23 22:28

KAAPSTAD. – Die ANC se nuwe tesourier-generaal sê daar is niks fout daarmee dat die ANC ’n afsonderlike beleggingsarm, Chancellor House Holdings, het nie.

Dr. Zweli Mkhize, wat pas tot dié amp verkies is, het verlede week gesê Chancellor House moet beskou word as ’n sake-onderneming soos enige ander.

Mkhize se voorganger, Mathews Phosa, het die sakebelange van Chancellor House grootliks verswelg, selfs nadat berigte oor die onderneming se meer omstrede sakepraktyke aan die lig gekom het.

Chancellor House het onder meer belange in Hitachi Power, ’n groep wat ’n groot kontrak by Eskom gekry het vir die bou van die Medupi-kragstasieprojek. Die groep het ook ’n belang in die Bateman-ingenieursgroep wat werk aan die Kusile- kragstasieprojek doen.

Mkhize is gevra of die ANC onder sy toesig as tesourier-generaal meer deursigtig sal wees. “Dit is die doel. Deursigtigheid is belangrik en ons sal daarna strewe.” Hy is ook gevra of hy as premier van KwaZulu-Natal gaan bedank noudat hy dié pos beklee. “Dit is nog te vroeg om daaroor te bespiegel.”– James-Brent Styan

Die Burger
«Terug