KAAPSTAD. – Die openbare beskermer (OB) moet die regering se besluit om ’n nuwe dorp in pres. Jacob Zuma se hartland in KwaZulu-Natal te bou, ondersoek.
Die departement van landelike ontwikkeling beplan om die nuwe dorp, wat luidens berigte tot R2miljard kan kos, sowat 3,2km van Zuma se tuisdorp, Nkandla, op te rig. Die projek word in samewerking met die landelike ontwikkelingsorganisasie Masimbambisane, waarvan Zuma die voorsitter is, uitgevoer.
Ernst Roets, adjunk- uitvoerende hoof van AfriForum, het gesê die inligting wat reeds bekend is rondom die ontwikkeling, dui daarop dat die besluit neerkom op voorkeurbehandeling deur die president aan sy tuisdorp.
“Daar’s nog geen duidelikheid gegee rondom hoe daar op Zuma se tuisdorp besluit is vir die projek nie.”
Die IVP wou ook vroeër weet wat die kriteria was wat gelei het tot Nkandla as die voorkeurkeuse.
Die Mail & Guardian het verlede week berig oor die beplande projek in Nkandla, waarvoor die belastingbetaler na verwagting tot R2miljard sal moet opdok.
“Die kern van die saak is dat Zuma ook persoonlik betrokke is. Dit is ons kommer. Ons ondersteun die ontwikkeling van landelike gebiede, maar wil weet dit geskied bo verdenking,” het Roets gesê.
Soortgelyke projekte is op Mzimkulu en Ngobi in Noordwes aangepak.
Die Burger