JOHANNESBURG. – Die ANC en sy alliansievennote gaan vandag voort met ’n betoging in Johannesburg, al hang Brett Murray se The Spear nie meer in die Goodman-galery nie en pryk dit ook nie meer op City Press se webwerf nie.
David Makhura, ANC-sekretaris in Gauteng, het gesê dit is vir die ANC ’n beginselsaak: “Die optog is om ons afkeur te wys oor die manier waarop die waardigheid van ons leier ondermyn is. Dit is om te wys ons stem nie saam met die siening van die ANC en ons president nie.”
Die Burger se susterkoerant City Press het gister die prent van sy webwerf verwyder nadat die ANC die koerant geboikot het en Ferial Haffajee, redakteur, en van haar kollegas geïntimideer en gedreig is.
Makhura het gesê die ANC is bly oor Haffajee se besluit.
“Ek dink dit is ’n positiewe en sensitiewe reaksie.”
Hy het gesê die kunswerk het hernude rasseverdeling in Suid-Afrika veroorsaak en dit kan “gevaarlike gevolge” hê. “Ons wil nie hê dit moet ’n kwessie van wit en swart wees nie. Dit kan al ons vordering sedert 1994 ongedaan maak.”
Hoewel dr. Blade Nzimande, minister van hoër onderwys, en Gwede Mantashe, sekretaris-generaal van die ANC, verlede week gesê het die skildery is rassisties, het Makhura gesê dit is nie ’n rassekwessie nie.
“Dit sal nooit die ANC se siening wees dat die probleem wit Suid-Afrikaners is nie. Daar moet ook nie ’n siening wees dat swart mense nie kuns verstaan nie.”
Haffajee het gister in ’n rubriek gesê sy het ná ’n lang wroeging en uit “omgee en vrees” besluit om die foto van die webwerf te verwyder.
Sy het gesê sy het nie besef die prent sal soveel “woede en pyn” veroorsaak nie en die koerant wil eerder ’n forum wees as verdeeldheid veroorsaak.
“Dat ons nou ’n simbool is van ’n nasie se woede en toorn is nooit die media se rol in die samelewing nie. Ons is robuus en onafhanklik, ja, maar verdelend en doof, nee.”
Sy het gesê sy het die besluit geneem om die vrede te bewaar en om verdere intimidasie en dreigemente teen haarself, redaksielede en die koerantverkopers te keer.
“Dit baat City Press of Suid-Afrika nie om vas te skop en ons vingers in ons ore te druk nie. Dit is dit eenvoudig nie werd nie en ek dink ons het ons punt gemaak en moet nou aanbeweeg.”
Die Burger