KAAPSTAD. – Die SKA-organisasie wat in beheer van dié reuse-teleskoopprojek is, gaan vir die volgende ses maande ’n plan van aksie vir die pad vorentoe bepaal.
Dit volg nadat dié organisasie Vrydag besluit het Suid-Afrika sal twee-derdes van die Square Kilometre Array (SKA) huisves, en Australië/Nieu-Seeland ’n derde.
Die implementeringsplan en tydlyn is aanvanklik vir een terrein opgestel en daar moet dus nou herbesin word.
“Die sakeplan moet ook saam met die twee terreine hersien word. Kwessies soos wanneer en hoe die voorloper-infrastruktuur (MeerKAT en ASKAP – Suid-Afrika en Australië se onderskeie voorloper-teleskope) by die SKA geïntegreer sal word, moet bepaal word,” het die organisasie in ’n verklaring gesê.
Dit blyk of die koste van die eerste fase van die SKA, waaraan bouwerk teen 2016 behoort te begin, onveranderd op nagenoeg €350 miljoen (sowat R3,6 miljard) sal bly. Die ingenieursfase wat dit sal voorafgaan, sal sowat €90 miljoen (sowat R936 miljoen) beloop, het die BBC berig.
Maar die groot koste van die tweede fase, wanneer Suid-Afrika die sowat 3000 skottelantennas sal ontvang, gaan straks meer as die beplande €1,5 miljard (sowat R15,6 miljard) bedra.
Dié geld sal opgedok word deur die SKA-lidlande, wat tans bestaan uit Brittanje, Italië, Duitsland, Kanada, China en Nederland, maar enige ander land kan aansluit. Nog 70 navorsingsinstellings dra ook by.
Prof. Justin Jonas, mede-direkteur van ingenieurswese en wetenskap van SKA-Afrika, het gesê hoewel die koste van die projek kan verhoog, sal die feit dat die projek deur die lande gedeel word “die wetenskap glad nie benadeel nie. Daar sal selfs voordele wees omdat albei lande soveel bestee het aan en geleer het uit hulle voorloper-teleskope.
Die plan is om sou gou moontlik planne vir fase 1 daar te stel.
Prof. Renée Kraan-Korteweg, hoof van die departement sterrekunde aan die Universiteit van Kaapstad, het oor die vaardighede wat nodig gaan wees vir die bedryf van die SKA gesê ’n graad in astronomie en astrofisika kan mense in ander velde help wat betrokke wil raak.
Dit sluit in ingenieurswese, tegnologie, instrumentasie-ontwerp, sagteware-ontwikkeling, digitale verwerking, rekenaarwetenskap, telekommunikasie en ekonomie.
Sy het gesê talle wetenskap- en tegnologievelde sal voordeel trek uit die SKA. “Die MeerKAT het reeds die uittog van topnavorsers uit die land begin omkeer. Altesaam 80% van die ingenieurs betrokke by SKA-Afrika is Suid-Afrikaners,” het sy gesê.
Die Burger