JOHANNESBURG. – Só min Suid-Afrikaanse polisiebeamptes is opgelei om seksuele misdade te hanteer dat die regstelsel slagoffers van seksuele geweld in die steek laat.
Só het die DA gister gesê nadat die verslag oor die inwerkingstelling van die Wet op Seksuele Oortredings (WSO) in die parlement ter tafel gelê is.
Luidens dié verslag is 3222 gewone polisielede tussen 2008 en 2011 opgelei om met seksuele misdade te werk. Dit beteken hulle is die eerste beamptes met wie ’n slagoffer in aanraking kom as hy of sy so ’n misdaad aanmeld.
In dieselfde tydperk is 3137 speurders spesifiek opgelei om sulke sake te ondersoek.
Uit die altesaam 193892 polisiebeamptes in die land het net meer as 3% dus in dié tydperk spesifieke opleiding ontvang.
Altesaam 66196 seksuele oortredings is verlede jaar by die polisie aangemeld.
“In ’n land met soveel geweld teen vroue is dit heeltemal onaanvaarbaar dat die SAPD nié verseker dat elke polisiebeampte opgelei is oor die WSO nie,” het Dianne Kohler Barnard, DA-LP, gesê.
Zweli Mnisi, woordvoerder vir die minister van polisie, Nathi Mthethwa, het gesê die SAPD se jaarlikse indiensopleidingsprogram sluit ’n slagofferbemagtiging-leerprogram in.
“Die gespesialiseerde opleiding van ondersoekers van seksuele oortredings is ’n hoë prioriteit, sodat ons meer skuldigbevindings kan verseker.”
Hy het gesê 17314 uit 21100 speurders is opgelei in ondersoekverwante kursusse en ’n verdere 2161 sal in die komende boekjaar opgelei word.
“Ons kan nie genoeg klem plaas op die belangrikheid van die akkurate afneem van verklarings nie, omdat dit ’n groot uitwerking op die uitslag van enige saak het.”
Die eenhede teen gesinsgeweld, kindermishandeling en seksuele oortredings (FCS-eenhede) is in al nege provinsies heropen, het Mnisi gesê.
Altesaam 2155 speurders is by dié eenhede geplaas en ’n bykomende bedrag van R49,5miljoen is aan die eenhede toegeken.
Joan van Niekerk, nasionale koördineerder en opleidingsbestuurder van Childline, het gesê die gebrek aan opleiding oor seksuele oortredings onder polisiebeamptes is ’n yslike probleem.
“Dis veral erg vir weerlose mense soos kinders, wat iemand nodig het om as bemiddelaar op te tree met die strafregstelsel.”
Die Burger