DieBurger WEBWERWE/DIENSTE >

Polisie ‘ondersoek nie homself’

Deur: Hilda Fourie 2012-08-22 04:45

MARIKANA. – Hoewel Julius Malema gister klagte by die polisie aanhangig gemaak het ná die Lonmin-bloedbad, kan die polisie nie die polisie ondersoek nie.

Dit is die werk van die Onafhanklike Polisie-ondersoekdirektoraat (Opod).

Só het Moses Dlamini, Opod-woordvoerder, gesê nadat Malema, voormalige ANC-jeugleier, klagte van moord, poging tot moord en aanranding by die Marikana-polisiekantoor aanhangig gemaak het.

Malema het gesê hy doen dit sodat ’n “normale prosedure” kan plaasvind rakende die ondersoek ná die dood verlede Donderdag van 34 mynwerkers.

“Ek vertrou nie pres. (Jacob) Zuma en sy establishment van politici wat die saak kan manipuleer soos hulle wil nie,” het Malema gesê.

“Die polisie het klaar besluit sy lede het uit selfverdediging opgetree.

“”Daar moet ’n normale prosedure wees met ’n ondersoekbeampte wat ons op hoogte hou met die vordering van die saak. Polisielede moet in hegtenis geneem en voor die hof gebring word. As hulle wel uit selfverdediging opgetree het, moet dit in die hof bewys word.”

Malema het gesê hy dien die klagte in saam met sewe mynwerkers wat die skietery tussen die mynwerkers en die polisie gesien het. Hulle doen dit namens die oorledenes en die beseerdes.

Volgens Malema is dit ’n tyd om te rou en moet die myn sy werkers die geleentheid gee om te rou.

“Laat die werkers eers hul mense begrawe en dan kan ons praat oor hoe om hulle by die werk terug te kry,” het Malema gesê.

“Dit is nie goed genoeg dat die myn geld vir die begrafnisse gee nie. Die myn moet die oorledenes eer deur vir die mynwerkers te gee wat hulle wil hê. Daardeur sê hulle die oorledenes het nie verniet gesterf nie.”

’n Gedenkdiens sal môre vir die oorledenes gehou word, moontlik op die plek waar hulle geskiet is, berig Alta Snyman.

Nog dienste sal mettertyd op die oorledenes se tuisdorpe gehou word.

Dlamini het gesê die Opod het ’n strafregtelike saak aanhangig gemaak ná Donderdag se voorval en die dossier bevat onder meer aanklagte van moord, poging tot moord en aanranding.

Volgens Dlamini is die ondersoek nog in ’n vroeë stadium. Hy het gesê hy “weet nie mooi hoe dit gaan werk” rakende die klagtes wat Malema indien nie, want die polisie kan nie homself ondersoek nie.

Die Burger
«Terug