KAAPSTAD. – Die veteraan- seiljagvaarder John Martin tree nou uit as kommodoor by die Royal Cape-klub in Tafelbaai en vertrek die naweek na New York om aan die internasionale Bermuda-wedvaart deel te neem.
“Ek het die afgelope sewe jaar in die klub se bestuur gedien, waarvan die laaste vier as kommodoor was. Dis nou tyd om ’n blaaskans te neem,” het Martin gesê.
Verlede jaar is die Royal Cape-klub genooi om ’n span na ’n regatta in New York te stuur en nou keer Martin terug om saam met sy broer, die ervare vaarder Ian Martin, in ’n wedvaart van Newport na Bermuda te seil.
Die Bermuda-wedvaart was in 1906 die eerste diepsee-wedvaart vir amateurs op normale bote. Sedertdien het sowat 46000 op 4500 seiljagte deelgeneem.
Ian Martin, wat deesdae in Amerika woon, sal vanjaar die skipper wees op die maksi-jag Lilla waarop hy en sy broer sal seil. Die jag van 23,2 m (76 voet) is deur Philippe Briand ontwerp en in 1991 in Bourdeaux gebou vir sy Ierse eienaar.
“Van die see en seiljagvaart sal ek nooit heeltemal kan wegkom nie,” het Martin gesê.
Gedurende sy termyn as kommodoor het John Martin baie gedoen om die Kaap-na-Rio-wedvaart weer ingestel te kry.
Die wedvaart speel ’n groot rol in die sterker bande wat Kaapstad nou met die Suid-Amerikaanse stad probeer opbou.
“Ek het Rio de Janeiro reeds vroeër vanjaar besoek as organiseerder van 2014 se Rio-wedvaart en ook die DA-leier, Helen Zille, en ander plaaslike politici daar ontmoet,” het Martin gesê.
As ondertekenaars van die Brics-verdrag is dit belangrik dat ons land sy bande met Brasilië versterk en Martin het gesê hy is bly hy kan ’n rol hierin speel.
Ook die ontwikkeling van nuwe seiltalent lê Martin na aan die hart. Hy en skout.-adm. Koos Louw van die SA Vloot gaan kragte saamsnoer om die Izivungu-seilskool verder uit te bou.
Die Burger