KAAPSTAD. – Die publiek se frustrasie oor lang hofrolle en sake wat jare sloer, sal na verwagting binne die volgende jaar verlig word.
Die regbank, onder leiding van hoofregter Mogoeng Mogoeng, het pas op ’n bosberaad besluit hoe om tekortkominge in die regstelsel reg te ruk.
Mogoeng het die naweek in ’n verklaring dit duidelik gemaak dat dié planne deur die regbank self uitgevoer sal word.
“Ons gaan alles in die stryd werp om die situasie in howe teen hierdie tyd aanstaande jaar te verbeter.”
Een van die planne is om ’n bestuurstelsel vir hofrolle in te stel wat die uitstel van sake sal hanteer.
Dit sal meebring dat ’n regter of landdros vroeg genoeg in enige saak op die hofrol in sy hof kan ingryp. Hulle sal dus self die pas vir litigasie kan instel en sake sal vinniger afgehandel word. Van die ander planne is:
)Om daaglikse sittingsure vir howe te verleng;
)Bykomende poste vir regsbeamptes om die las aan sake te help dra;
)Beter toegang tot geregtigheid deur mobiele howe en om howe vir klein eise te herstruktureer;
)Die skep van meer howe vir seksuele misdrywe; en
)Om howe te moderniseer sodat tegnologie op internasionale standaard is.
Kommer is ook uitgespreek oor tolkdienste en daar is ooreengekom dat die gehalte van dié dienste verbeter kan word deur opleiding waarby regters en landdroste betrokke moet wees.
Dene Smuts, DA-LP, het dit verwelkom.
“Dit is in elke opsig ’n verbetering en modernisering waarop die regbank geruime tyd gelede reeds ooreengekom het en wat voormalige hoofregter Sandile Ngcobo veral suksesvol gedryf het,” het sy gesê.
“Die wetsontwerpe hiervoor word reeds geskryf.”
Die Burger