JOHANNESBURG. – ’n Twee maande oue renosterkalf is in ’n bedenklike toestand nadat sy drie dae gelede vermoedelik deur stropers met pangas en byle in die gesig gekap is.
Volgens Karen Trendler van die Rhino Orphan Project het die kalf probeer om na haar ma terug te keer terwyl stropers haar ma se horing afgekap het.
“Die stropers het die renosterkalf in die gesig met ’n panga en ’n byl gekap in ’n poging om haar weg te jaag,” het Trendler gesê.
Tombi, wat “mooi meisie” beteken, het sowat agtien diep snye oor haar gesig en verduur steeds pyn, het Trendler gesê.
“Ten spyte daarvan dat sy wreed in die gesig gekap is, is sy steeds baie mooi.”
Een van die snye het tot haar skedel deurgedring.
“Ons hoop sy sal ten volle herstel, maar dit gaan enigiemand se verstand te bowe hoe wreed stropers kan wees,” het Trendler bygevoeg.
Die plek waar die voorval plaasgevind het, kan weens sekuriteitsredes nie bekend gemaak word nie, maar volgens Trendler is ’n ondersoek reeds begin.
“Sy is mooi aan die herstel en was gistermiddag meer op en wakker as toe sy net by ons aangekom het.
Tombi se ma het ongelukkig nie oorleef nie. – Lourensa Eckard