DieBurger

Reuse-pionier van Naspers sterf

Deur: Hanlie Gouws 2012-06-24 23:37

KAAPSTAD. – Antonie Roux, hoof van MIH en van Naspers se internetbedrywighede, is gisteraand in ’n hospitaal in Duitsland oorlede. Hy was 54.

Pankreaskanker is vroeër by hom gediagnoseer en hy is Dinsdagoggend in die Heidelberg-universiteitshospitaal in Duitsland geopereer waarna hy ’n infeksie opgedoen het.

Roux het in 1979 sy loopbaan by Die Burger begin en was in 1985 ’n stigterslid van M-Net. In 1997 het hy uitvoerende hoof geword van M-Web Suid-Afrika en in 2002 uitvoerende hoof van Naspers se internetoperasies. Op 1 April 2011 is hy aangestel as uitvoerende hoof van die MIH-groep.

“Antonie was een van die absolute voorlopers van Naspers en ’n pionier op die gebied van die internet. Hy was een van die groot boumeesters van die media in sy nuwe gedaante,” het Ton Vosloo, nie-uitvoerende voorsitter van Naspers se direksie, gesê.

Volgens Koos Bekker, uitvoerende hoof van Naspers, was Roux se mees kenmerkende eienskap ’n lewenslus wat vir niks geskrik het nie. “Hy was nuuskierig oor alles en almal; uitermate lojaal. Hy was een van die min mense wêreldwyd wat ’n soomlose oorgang gemaak het van gedrukte media na televisie en die internet.”

Bun Booyens, redakteur van Die Burger, het gesê Roux was as’t ware Naspers se verkenner in die wêreld wat nuwe moontlikhede moes ontgin. “Hy het ’n sin vir detail gehad en kon dinge meedoënloos opvolg met ’n byna forensiese oog vir elke klein besonderheid.”

Esmaré Weideman, uitvoerende hoof van Media24, het gesê Antonie se reuse-bydrae tot die maatskappy gaan erken word deur ’n toekenning wat na hom genoem is en in Julie oorhandig sal word aan die mees suksesvolle digitale besigheidseenheid.

Roux word oorleef deur sy vrou, Sonja, en kinders André, Petronel en Marté. Die gesin het in Kaapstad gewoon. – Hanlie Gouws

Die Burger
«Terug